Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Eendag het die Israeliete gekla dat dit sleg gaan met hulle, en die Here het gehoor dat hulle kla. Hy het kwaad geword en Hy het vuur tussen hulle laat brand. Die buitenste deel van die kamp het verbrand.

2. Die volk het gevra dat Moses hulle moet help, en Moses het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan.

3. Hulle het daardie plek “Die Brandplek” genoem, omdat die Here daar ’n vuur tussen hulle laat brand het.

4. Eendag het ’n paar slegte mense wat tussen die Israeliete was, baie lus geword vir vleis. Die Israeliete het ook gehuil en gevra: “Wie sal vir ons vleis gee om te eet?

5. Ons dink aan die vis wat ons in Egipte kon eet, ons het nie daarvoor betaal nie. En ons dink aan die komkommers, die spanspekke, die preie, die uie en die knoffel.

6. Maar nou moet ons droë kos eet. Ons sien net manna, niks ander kos nie.”

7. Die manna was soos koljander-saad en dit het geblink soos ’n boom se gom.

8. Die mense het gegaan en hulle het die manna bymekaargemaak. Hulle het dit gemaal op maalklippe of dit fyngestamp in stampblokke, en dan het hulle dit gekook en koekies daarvan gemaak. Die koekies het gesmaak soos olyfolie-koekies.

9. Wanneer die dou in die nag in die kamp geval het, dan het die manna saam met die dou geval.

10. Moses het gehoor dat die mense huil, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here was baie kwaad, en Moses was bang en ontsteld daaroor.

Lees volledige hoofstuk Numeri 11