Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 12:27-39 Bybel vir Almal (ABA)

27. Toe hulle die muur van Jerusalem wou wy, het hulle die Leviete oral gesoek in die dorpe waar hulle gewoon het. Hulle het die Leviete na Jerusalem gebring. Die Leviete moes die muur wy en hulle moes feesvier, hulle moes die Here prys en musiek maak met simbale, met harpe en met liere.

28. Hulle het die mense wat moes sing, bymekaar laat kom uit die plekke rondom Jerusalem, uit die woonplekke van die mense van Netofa,

29. uit Bet-Gilgal en uit die velde rondom Geba en Asmawet. Die mense wat moes sing, het vir hulle woonplekke gebou rondom Jerusalem.

30. Die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, en daarna het hulle ook die ander mense, die poorte en die muur gereinig.

31. Ek het gesê die leiers van Juda moet op die muur klim. Hulle moes in twee groot groepe staan om te sing. Die een groep moes op die muur na die suide toe loop tot by die Vullis-poort.

32. Hosaja en die helfte van die leiers van Juda het agter daardie groep geloop,

33. en ook Asarja, Esra, Mesullam,

34. Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia.

35. Ná hulle het priesters geloop wat trompette geblaas het. Hulle was Sagaria seun van Jonatan seun van Semaja seun van Mattanja seun van Miga seun van Sakkur seun van Asaf,

36. en die priesters Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het gespeel op die musiek-instrumente van Dawid, die man van God. Die sekretaris Esra het voor hulle geloop.

37. By die Fontein-poort het hulle reguit opgegaan by die trappe van die Dawidstad, daar waar die muur boontoe gaan, en toe verby die paleis van Dawid tot by die Water-poort by die oostekant.

38. Die ander groep mense wat moes sing, het na die ander kant geloop. Ek en die ander helfte van die mense het agter hulle geloop, op die muur oor die Bakoond-toring tot by die Breë Muur,

39. oor die Efraim-poort, die Ou Poort, die Vis-poort, die Gananel-toring, die Toring-van-die-Honderd tot by die Skaap-poort, en by die Wag-poort het ons gaan staan.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 12