hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 12 Bybel vir Almal (ABA)

Die priesters en Leviete in die tyd toe Serubbabel goewerneur was

1. Hier is die name van die priesters en Leviete wat uit die land Babel teruggekom het saam met Serubbabel seun van Sealtiël en saam met Jesua, Seraja, Jeremia en Esra:

2. Amarja, Malluk, Gattus,

3. Sekanja, Regum, Meremot,

4. Iddo, Ginnetoi, Abija,

5. Mijamin, Maädja, Bilga,

6. Semaja, Jojarib, Jedaja,

7. Sallu, Amok, Gilkija en Jedaja. Hulle was die hoofde van die priesters en hulle families in die tyd toe Jesua hoëpriester was.

8. Die Leviete was Jesua, Binnuï, Kadmiël, Serebja, Juda en Mattanja. Mattanja en ander saam met hom was die hoofde van die mense wat moes sing om vir die Here dankie te sê.

9. Die Leviete Bakbukja en Unni het voor hulle gestaan wanneer hulle gesing het.

Die hoëpriesters

10. Jesua was die pa van Jojakim, Jojakim was die pa van Eljasib, Eljasib was die pa van Jojada,

11. Jojada was die pa van Jonatan, en Jonatan was die pa van Jaddua.

Die hoofde van die priester-families in die tyd toe Jojakim die hoëpriester was

12. Die hoofde van die priester-families in die tyd toe Jojakim die hoëpriester was: Meraja was die hoof van die Seraja-familie, Gananja van die Jeremia-familie,

13. Mesullam van die Esra-familie, Joganan van die Amarja-familie,

14. Jonatan van die Malluki-familie, Josef van die Sebanja-familie,

15. Adna van die Garim-familie, Gelkai van die Merajot-familie,

16. Sagaria van die Iddo-familie, Mesullam van die Ginneton-familie,

17. Sikri van die Abija-familie, Piltai van die Minjamin-familie en van die Moadja-familie,

18. Sammua van die Bilga-familie, Semaja van die Joganan-familie,

19. Mattenai van die Jojarib-familie, Ussi van die Jedaja-familie,

20. Kallai van die Sallu-familie, Eber van die Amok-familie,

21. Gasabja van die Gilkija-familie en Netanel van die Jedaja-familie.

Die priesters en Leviete wie se name op die naamlys is

22. Die name van die Leviete se familiehoofde is geskryf op die naamlys in die tyd toe Eljasib, Jojada, Joganan en Jaddua die hoëpriesters was. Die name van die priesters is op die naamlys geskryf in die tyd toe Darius koning van die land Persië was. Darius was een van die mense van Persië.

23. Die name van die Leviete se familiehoofde is geskryf in die dagboeke tot in die tyd toe Joganan seun van Eljasib die hoëpriester was.

24. Die hoofde van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua seun van Kadmiël. Die ander Leviete saam met hulle het voor hulle gestaan om die Here te prys en vir Hom dankie te sê. Dawid, die man van God, het gesê die twee groepe moet só oorkant mekaar staan.

25. Die ander hoofde van die Leviete was Mattanja, Bakbukja, Obadja en Mesullam. Talmon en Akkub was poortwagte wat die stoorkamers by die poorte opgepas het.

26. Hulle het dit gedoen in die tyd toe Jojakim, seun van Jesua seun van Josadak, die hoëpriester was. Dit was in die tyd toe Nehemia die goewerneur was en toe die sekretaris en priester Esra daar was.

Hulle wy die muur van Jerusalem

27. Toe hulle die muur van Jerusalem wou wy, het hulle die Leviete oral gesoek in die dorpe waar hulle gewoon het. Hulle het die Leviete na Jerusalem gebring. Die Leviete moes die muur wy en hulle moes feesvier, hulle moes die Here prys en musiek maak met simbale, met harpe en met liere.

28. Hulle het die mense wat moes sing, bymekaar laat kom uit die plekke rondom Jerusalem, uit die woonplekke van die mense van Netofa,

29. uit Bet-Gilgal en uit die velde rondom Geba en Asmawet. Die mense wat moes sing, het vir hulle woonplekke gebou rondom Jerusalem.

30. Die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, en daarna het hulle ook die ander mense, die poorte en die muur gereinig.

31. Ek het gesê die leiers van Juda moet op die muur klim. Hulle moes in twee groot groepe staan om te sing. Die een groep moes op die muur na die suide toe loop tot by die Vullis-poort.

32. Hosaja en die helfte van die leiers van Juda het agter daardie groep geloop,

33. en ook Asarja, Esra, Mesullam,

34. Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia.

35. Ná hulle het priesters geloop wat trompette geblaas het. Hulle was Sagaria seun van Jonatan seun van Semaja seun van Mattanja seun van Miga seun van Sakkur seun van Asaf,

36. en die priesters Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het gespeel op die musiek-instrumente van Dawid, die man van God. Die sekretaris Esra het voor hulle geloop.

37. By die Fontein-poort het hulle reguit opgegaan by die trappe van die Dawidstad, daar waar die muur boontoe gaan, en toe verby die paleis van Dawid tot by die Water-poort by die oostekant.

38. Die ander groep mense wat moes sing, het na die ander kant geloop. Ek en die ander helfte van die mense het agter hulle geloop, op die muur oor die Bakoond-toring tot by die Breë Muur,

39. oor die Efraim-poort, die Ou Poort, die Vis-poort, die Gananel-toring, die Toring-van-die-Honderd tot by die Skaap-poort, en by die Wag-poort het ons gaan staan.

40. Daarna het die twee groepe wat moes sing, in die tempel gaan staan. Ek het ook daar gaan staan, en die helfte van die leiers het saam met my gaan staan.

41. Die priesters Eljakim, Maäseja, Minjamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas,

42. en ook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die groepe het gesing, Jisragja was hulle leier.

43. Die mense het daardie dag baie offers gebring. Hulle was bly, God het hulle baie bly gemaak. Die vroue en kinders was ook bly. ’n Mens kon van ver hoor hoe Jerusalem feesvier.

Die stoorkamers

44. Hulle het daardie dag manne gekies en aangestel om die stoorkamers op te pas, die kamers waar hulle die presente gebêre het en ook die eerste koring en gars en vrugte, en die tiendes. Hulle moes in die stoorkamers die deel van die dinge bêre wat in die grond rondom die stede gegroei het en wat die priesters en Leviete moes kry. Die wette sê die priesters en die Leviete moet dit kry. Die mense van Juda het dit graag gegee vir die werk wat die priesters en Leviete gedoen het.

45. Hulle het die werk vir hulle God gedoen en hulle het mense en dinge gereinig. Die mense wat moes sing en die poortwagte het hulle werk gedoen soos Dawid en sy seun Salomo gesê het.

46. Lank gelede, in die tyd toe Dawid koning was en toe Asaf gelewe het, was daar ’n leier van die mense wat moes sing om vir God te prys en dankie te sê.

47. In die tyd toe Serubbabel en Nehemia goewerneurs was, het al die Israeliete elke dag gesorg vir die mense wat moes sing en vir die poortwagte. Hulle het die gewyde presente vir die Leviete gewy, en die Leviete het die deel gewy wat die priesters moes kry.