Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:7-16 Bybel vir Almal (ABA)

7. Toe het Moses vir Aäron die rok aangetrek, hy het die skouer-serp om Aäron vasgemaak, die bo-kleed om hom gedraai, die skouer-kleed oorgesit en die belt van die skouer-kleed om sy middellyf vasgemaak.

8. Hy het die borssak vasgemaak en hy het die urim en tummim in die borssak gesit.

9. Hy het die tulband op Aäron se kop gesit en voor op die tulband het hy die blom van goud gesit, die gewyde kroon, soos die Here vir Moses gesê het.

10. Daarna het Moses die salf-olie geneem en hy het die tempel-tent en alles daarin gesalf en gewy.

11. Hy het van die salf-olie sewe maal teen die altaar gespat en hy het die altaar en al die gereedskap van die altaar en die was-skottel en sy voetstuk gesalf en gewy.

12. Toe het Moses van die salf-olie op Aäron se kop gegooi en hy het Aäron gesalf en gewy.

13. Daarna het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hy het vir hulle die rokke aangetrek en die skouer-serpe omgesit en die kopdoeke om hulle koppe gebind, soos die Here vir Moses gesê het.

14. Toe het Moses die bul nader gebring wat die sonde-offer moet wees. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit.

15. Moses het die bul geslag. Hy het die bloed geneem en hy het van die bloed met sy vinger aan die horings van die altaar gesmeer. Hy het die altaar gereinig. Hy het toe die bloed wat oorgebly het, onder teen die altaar uitgegooi en so het hy dit gewy en versoening gedoen vir die altaar.

16. Moses het al die vet geneem wat om die binnegoed was en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet aan die niere en hy het dit op die altaar verbrand.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8