Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:23-34 Bybel vir Almal (ABA)

23. Julle mag nie grond verkoop sodat dit altyd aan die nuwe eienaar behoort nie, want die land behoort aan My, julle is vreemdelinge en bywoners by My.

24. Iemand moet grond kan loskoop oral in julle land.

25. As een van julle arm word en hy verkoop van sy grond, dan moet sy naaste losser kom en hy moet die grond loskoop wat sy familielid moes verkoop.

26. Miskien het die persoon nie ’n losser nie, maar hy kry genoeg geld om homself los te koop.

27. Dan moet hulle tel hoeveel jaar verby is nadat die persoon die grond verkoop het, en dan moet hy vir die persoon wat die grond gekoop het, betaal vir die jare wat oorbly tot die volgende Hersteljaar. Daarna kan hy teruggaan na sy grond.

28. As die persoon nie genoeg geld kan kry om die grond terug te koop nie, dan moet die persoon wat die grond gekoop het, dit hou tot die volgende Hersteljaar. Dan moet die grond weer behoort aan die eerste persoon, en dan mag hy teruggaan na sy grond.

29. “Wanneer iemand ’n huis verkoop in ’n stad wat mure het, dan kan hy die huis loskoop in die eerste jaar nadat hy dit verkoop het.

30. As hy nie die huis terugkoop in die eerste jaar nie, dan kan die persoon wat dit gekoop het, en sy nageslag, die huis altyd hou. Die eerste eienaar kry nie weer die huis in die Hersteljaar nie.

31. Daar is nie mure om party dorpe nie. Die huise in daardie dorpe staan in die veld. Die eerste eienaar van so ’n huis kry weer sy huis in die Hersteljaar.

32. Leviete kan die huise in hulle stede altyd terugkoop.

33. Wanneer ’n Leviet sy huis in ’n Levietestad verkoop het en hy kan dit nie loskoop voor die Hersteljaar nie, dan moet hy die huis terugkry in die Hersteljaar. Die huise in die Levietestede moet altyd aan die Leviete behoort.

34. Die Leviete mag nie die weiveld rondom hulle stede verkoop nie, dit moet altyd aan hulle behoort.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25