Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 20:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. Iemand het miskien ’n kind van sy nageslag vir Molek gegee, en die mense van die land maak of hulle nie sien wat daardie man gedoen het nie. As hulle die man nie doodmaak nie,

5. dan sal Ek self daardie man en sy familie se vyand wees. Ek sal hom afsny van sy volk, en ook almal wat saam met hom ontrou was en wat vir Molek gedien het.

6. “Wanneer ’n persoon wil vra wat hy moet doen, dan vra hy dit miskien vir die geeste van mense wat gesterf het, of vir waarsêers. Daardie persoon is ontrou aan My. Ek sal sy vyand wees en Ek sal hom afsny van sy volk.

7. Julle moet julleself aan My wy, julle moet gewyde mense wees, want Ek is julle God die Here.

8. Julle moet aanhou om te doen wat Ek wil hê. Ek is die Here, Ek wy julle aan My.

9. “Ja, die persoon wat sy ouers vervloek, moet sterf. Hy het sy ouers vervloek, daarom moet hy sterf, hy is skuldig.

10. “En die man wat egbreuk pleeg met ’n ander man se vrou, moet sterf, hy en die vrou moet sterf.

11. En ’n man wat seks het met sy pa se vrou, moet sterf, hy het skande gebring oor sy pa se naam. Die man en die vrou moet altwee sterf, hulle is skuldig.

12. “En ’n man wat seks het met sy skoondogter, moet sterf. Hulle moet altwee sterf, hulle het iets gedoen wat die Here haat, hulle is skuldig.

13. “En die man wat seks het met ’n ander man, moet sterf. Hulle het iets gedoen wat die Here haat, hulle moet altwee sterf, hulle is skuldig.

14. “En dit is ’n slegte ding wanneer ’n man met ’n vrou én met haar ma trou. Julle moet hulle aldrie verbrand, daar mag nie so ’n slegte ding by julle gebeur nie.

15. “En ’n man wat seks het met ’n dier, moet sterf. Hy moet sterf, en julle moet die dier ook doodmaak.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 20