Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 13:6-25 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die priester moet ná sewe dae weer na die persoon kyk, en as die seerplek dof is en dit het nie groter geword nie, dan moet die priester sê dit is ’n ander velsiekte, die persoon is rein. Die persoon moet sy klere was, dan sal hy rein wees.

7. “Maar as die skurwe plek groter geword het nadat die persoon by die priester was en as die priester gesê het dat hy rein is, dan moet die persoon weer na die priester toe kom.

8. Die priester moet kyk, en as die skurwe plek op die vel groter geword het, dan is die persoon melaats, en die priester moet dan sê die persoon is onrein.

9. “Wanneer iemand ’n seerplek het wat miskien melaats is, dan moet sy mense hom na die priester toe bring.

10. Die priester moet na die seerplek kyk. As die seerplek op die vel wit is en dit is geswel, en die hare op die seerplek is wit, en as die seerplek rou is,

11. dan is die seerplek melaats. Die priester moet dan sê dat die persoon onrein is. Hy moet hom nie toesluit nie, want hy weet die persoon is onrein.

12. “Maar as dit vir die priester lyk of die siekte op die persoon se hele liggaam is, van sy kop tot by sy tone,

13. dan moet die priester goed kyk, en as hy sien dat die vel op die persoon se hele liggaam wit geword het, dan moet hy sê dat die persoon rein is.

14. Maar wanneer die persoon ’n rou seerplek het, dan is hy onrein.

15. Wanneer die priester die rou seerplek sien, dan moet hy sê dat die persoon onrein is. Die rou seerplek wys dat dit melaats is.

16. Wanneer die rou seerplek weer wit word, dan moet die persoon weer na die priester toe gaan,

17. en as die priester sien dat die seerplek weer wit is, dan moet die priester sê dat die persoon rein is.

18. Iemand het miskien ’n seerplek gehad wat gesond geword het,

19. en dan begin dit weer swel en dit is wit waar die seerplek was, of die seerplek word miskien pienk. Dan moet die persoon dit vir die priester gaan wys.

20. As die priester sien dat die seerplek dieper is as die vel en dat die hare daarop wit geword het, dan moet die priester sê dat die persoon onrein is. Die seerplek het melaats geword.

21. Maar as die priester sien dat die hare op die plek nie wit is nie en dat die seerplek nie dieper is as die vel nie en dat dit dof geword het, dan moet die priester die persoon sewe dae lank toesluit.

22. As die seerplek groter geword het, dan moet die priester sê die persoon is onrein, hy het ’n velsiekte.

23. Maar as die vlek nie groter geword het nie, dan is dit net die plek waar die seerplek voorheen was, en die priester moet sê dat die persoon rein is.

24. “Wanneer iemand ’n brandplek op sy vel het, en dit word ’n pienk seerplek,

25. dan moet die priester na die seerplek kyk. As die hare op die seerplek wit geword het, en as die seerplek lyk of dit dieper is as die vel, dan het die brandplek melaats geword. Die priester moet sê die persoon is onrein, want hy is melaats.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 13