Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 11:10-35 Bybel vir Almal (ABA)

10. Maar as die diere wat in die see en in die riviere is, nie vinne en skubbe het nie, dan mag julle niks eet van hulle nie, niks van al die baie klein diertjies wat in die water lewe nie.

11. Julle mag nooit van hulle eet nie. Julle mag nie hulle vleis eet nie en julle mag nie aan hulle dooie liggame raak nie.

12. Julle mag nie iets eet wat nie vinne en skubbe het nie.

13-19. “Julle mag nie van hierdie voëls eet nie, julle moenie aan hulle raak nie: arende, aasvoëls, vis-arende, valke, kraaie, volstruise, seemeeue, uile, pelikane, visvangers, duikers, ooievaars, reiers en hoep-hoepe. Julle mag ook nie vlermuise eet nie,

20. ook nie die klein diertjies wat vlerke en pote het nie.

21. Maar julle mag eet van die klein diertjies wat vlerke en pote het, as die diertjies kan spring.

22. Hierdie diertjies wat julle mag eet, is al die soorte sprinkane.

23. Julle mag nie raak aan die ander diertjies wat vlerke en pote het nie.

24. Hulle sal julle onrein laat word. Enige iemand wat raak aan die dooie liggaam van so ’n diertjie, sal onrein wees tot die aand.

25. Iemand wat die dooie liggaam van so ’n diertjie optel, moet sy klere was. Hy sal onrein wees tot die aand.

26. “’n Dier wat nie herkou nie en wat hoewe het wat nie heeltemal gesplete is nie, sal julle onrein laat word. Iemand wat aan hierdie diere raak, sal onrein wees.

27. ’n Dier wat nie kloue het nie, is onrein vir julle, en iemand wat raak aan die dooie liggaam van so ’n dier, sal onrein wees tot die aand.

28. Iemand wat die dooie liggaam van so ’n dier optel, moet sy klere was, en hy sal onrein wees tot die aand. Hierdie diere is onrein vir julle.

29-30. “Hierdie klein diertjies wat op die aarde kruip, is vir julle onrein: molle, muise, akkedisse, geitjies, likkewane en verkleurmannetjies.

31. Hulle is die onrein klein diertjies. Iemand wat aan een van hierdie diertjies se dooie liggaam raak, sal onrein wees tot die aand.

32. Wanneer een van hierdie diertjies se dooie liggaam op iets val, dan sal dit onrein wees. Dit is miskien iets van hout of lap of vel of growwe materiaal, of enige iets wat mense gebruik. Julle moet dit in water druk, en dit sal onrein wees tot die aand.

33. Wanneer so ’n diertjie in ’n kleipot val, dan sal alles in die pot onrein wees, en julle moet die pot breek.

34. As daar water in die kleipot was en die water kom op kos, dan sal die kos onrein wees. As daar iets in die kruik was wat ’n mens kan drink, dan sal dit onrein wees

35. As die diertjies se dooie liggame op enige iets val, dan sal dit alles onrein wees. As dit op ’n oond of op ’n kookplek val, dan moet julle die oond of kookplek stukkend slaan. Dit is onrein en dit sal vir julle onrein bly.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 11