Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 3:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Josua het vroeg die oggend weggegaan van Sittim, hy en al die Israeliete, en hulle het by die Jordaan-rivier gekom. Hulle het die nag daar gebly voordat hulle oorgegaan het.

2. Ná drie dae het die voormanne deur die kamp gegaan

3. en hulle het vir die mense gesê: “Wanneer julle sien dat die Levi-priesters die verbondskis van julle God die Here optel, dan moet julle kom en julle moet agter die kis loop.

4. Maar julle moet onthou om ver van die kis te bly, omtrent 2 000 el, julle moenie nader kom nie. Julle moet agter die kis loop sodat julle kan weet waarnatoe julle moet gaan, want julle het nie voorheen hierdie pad geloop nie.”

5. Josua het ook vir die volk gesê: “Julle moet julleself wy, want die Here sal môre wonderwerke doen tussen julle.”

6. Josua het vir die priesters gesê: “Julle moet die verbondskis optel en julle moet voor die volk loop.”Die priesters het die verbondskis opgetel en hulle het voor die volk geloop.

7. Die Here het vir Josua gesê: “Ek sal vandag begin om vir al die Israeliete te wys dat jy ’n belangrike man is. Hulle moet weet dat Ek by jou sal wees, soos Ek by Moses was.

8. En jy moet self vir die priesters wat die verbondskis dra, sê: ‘Wanneer julle by die water van die Jordaan-rivier kom, dan moet julle in die rivier gaan staan.’ ”

9. Daarna het Josua vir die Israeliete gesê: “Julle moet nader kom hiernatoe en julle moet hoor wat sê julle God die Here.”

Lees volledige hoofstuk Josua 3