Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:17-33 Bybel vir Almal (ABA)

17. want die Here is ons God. Dit is Hý wat ons en ons voorvaders uit Egipte gebring het, Hy het ons gebring uit die plek waar ons slawe was. Ons het die groot wonderwerke gesien wat Hy gedoen het. Hy het ons beskerm op die hele pad waar ons geloop het, Hy het ons beskerm teen die volke van al die lande waar ons gegaan het.

18. Die Here het al die volke weggejaag om plek te maak vir ons, Hy het ook die Amoriete weggejaag wat in die land gewoon het. Ons sal ook die Here dien, want Hý is ons God.”

19. Toe sê Josua vir die volk: “Julle kan nie die Here dien nie, want Hy is ’n heilige God, Hy wil hê julle moet net vir Hom dien. Hy sal julle nie vergewe as julle opstandig is en sonde doen nie.

20. As julle die Here los en as julle gode van ander volke dien, dan sal Hy dit sleg laat gaan met julle en Hy sal julle almal laat sterf, Hy wat voorheen goed gedoen het aan julle.”

21. Die volk het toe vir Josua gesê: “Nee, ons sal net die Here dien.”

22. Josua het vir die volk gesê: “Dan is julle getuies teen julleself dat júlle gekies het om die Here te dien.”En hulle het gesê: “Ja, ons is.”

23. Josua sê toe: “Dan moet julle nou die ander volke se gode los en julle moet heeltemal aan die Here behoort, julle moet behoort aan die God van Israel.”

24. Die volk het geantwoord en gesê: “Ons sal net ons God die Here dien en ons sal net aan Hom gehoorsaam wees.”

25. Josua het daardie dag ’n verbond gemaak met die volk. Hy het daar by die stad Sigem vir hulle reëls en wette gegee.

26. Hy het dit opgeskryf in die Wetboek van God. Hy het ’n groot klip geneem en hy het dit daar regop gesit onder die groot boom by die tempel van die Here.

27. Josua het vir die hele volk gesê: “Hierdie klip sal vir ons ’n getuie wees, want die klip het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Die klip sal die getuie wees sodat julle nie vals is met julle God nie.”

28. Toe het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond.

29. Nadat hierdie dinge gebeur het, het die Here se dienaar Josua seun van Nun gesterf. Josua was 110 jaar oud.

30. Hulle het hom begrawe op sy grond by die stad Timnat-Serag in die Efraim-berge, noord van Gaäs-berg.

31. Terwyl Josua gelewe het, het die Israeliete die Here gedien. Hulle het aangehou om Hom te dien, ook toe die leiers gelewe het wat geweet het wat die Here vir die Israeliete gedoen het.

32. Toe die Israeliete voorheen weggegaan het uit Egipte, het hulle Josef se bene saamgebring en hulle het dit begrawe in Sigem. Dit is die stuk grond wat Jakob gekoop het van die nageslag van Sigem, seun van Gamor. Jakob het 100 kesita daarvoor betaal. So het dit gebeur dat die grond aan die nageslag van Josef behoort.

33. Eleasar seun van Aäron het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Efraim-berge, op die heuwel wat aan sy seun Pinehas behoort het.

Lees volledige hoofstuk Josua 24