Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:12-23 Bybel vir Almal (ABA)

12. Dit was nie júlle wapens wat hulle oorwin het nie. Ék het hulle bang laat word, en hulle het gevlug soos die twee konings van die Amoriete.

13. Ek het vir julle ’n land gegee waar julle nie gewerk het nie en stede wat julle nie self gebou het nie. Julle het daar gaan woon en julle het druiwe en olywe geëet van wingerdstokke en olyfbome wat julle nie geplant het nie.

14. Daarom, julle moet die Here dien, julle moet dit altyd en eerlik doen. Julle moet die gode los wat julle voorvaders anderkant die Eufraat-rivier en in Egipte gedien het en julle moet die Here dien.

15. Maar as julle besluit julle wil nie die Here dien nie, dan moet julle vandag kies vir wie julle wil dien. Wil julle die gode dien wat julle voorvaders anderkant die Eufraat-rivier gedien het? Julle woon nou in die Amoriete se land. Wil julle húlle gode dien? Maar ek en my familie sal die Here dien.”

16. Die volk het vir Josua gesê: “Ons wil glad nie die Here los en ander gode dien nie,

17. want die Here is ons God. Dit is Hý wat ons en ons voorvaders uit Egipte gebring het, Hy het ons gebring uit die plek waar ons slawe was. Ons het die groot wonderwerke gesien wat Hy gedoen het. Hy het ons beskerm op die hele pad waar ons geloop het, Hy het ons beskerm teen die volke van al die lande waar ons gegaan het.

18. Die Here het al die volke weggejaag om plek te maak vir ons, Hy het ook die Amoriete weggejaag wat in die land gewoon het. Ons sal ook die Here dien, want Hý is ons God.”

19. Toe sê Josua vir die volk: “Julle kan nie die Here dien nie, want Hy is ’n heilige God, Hy wil hê julle moet net vir Hom dien. Hy sal julle nie vergewe as julle opstandig is en sonde doen nie.

20. As julle die Here los en as julle gode van ander volke dien, dan sal Hy dit sleg laat gaan met julle en Hy sal julle almal laat sterf, Hy wat voorheen goed gedoen het aan julle.”

21. Die volk het toe vir Josua gesê: “Nee, ons sal net die Here dien.”

22. Josua het vir die volk gesê: “Dan is julle getuies teen julleself dat júlle gekies het om die Here te dien.”En hulle het gesê: “Ja, ons is.”

23. Josua sê toe: “Dan moet julle nou die ander volke se gode los en julle moet heeltemal aan die Here behoort, julle moet behoort aan die God van Israel.”

Lees volledige hoofstuk Josua 24