Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 2:15-24 Bybel vir Almal (ABA)

15. Ragab het die twee mans toe met ’n tou deur die venster laat sak, want haar huis was op die muur van die stad, sy het op die muur gewoon.

16. Sy het vir die twee mans gesê: “Julle moet na die berge gaan, sodat die mense wat vir julle soek, julle nie kan kry nie. Julle moet drie dae lank daar wegkruip, daarna kan julle teruggaan op dieselfde pad wat julle gekom het.”

17. Die mans het vir haar gesê: “Ons sal doen wat ons vir jou belowe het.

18. Maar wanneer ons die land aanval, dan moet jy hierdie rooi tou vasbind aan die venster waar jy ons laat afsak het, en jy moet jou ouers en broers, jou hele familie, in jou huis laat bymekaarkom.

19. As ’n persoon uit jou huis buitetoe gaan, en ons mense maak hom dood, dan sal dit sy eie skuld wees. Maar dit sal ons skuld wees as ons mense iemand doodmaak wat in jou huis is.

20. En as jy sê dat ons hier was, dan sal ons nie doen wat ons belowe het nie.”

21. Sy het toe gesê: “Dit is goed.”Sy het hulle toe laat gaan en sy het die rooi tou aan die venster vasgebind.

22. Die twee mans het na die berge gegaan en hulle het drie dae lank daar gebly, totdat die manne wat vir hulle gaan soek het, teruggekom het. Die manne het gesoek op die hele pad na die Jordaan-rivier, maar hulle het nie die twee mans gekry nie.

23. Die twee mans het toe afgekom van die berg en hulle het oor die rivier gegaan. Toe hulle by Josua seun van Nun kom, het hulle vir hom alles vertel wat met hulle gebeur het.

24. Hulle het vir Josua gesê: “Die Here sal die land vir ons gee, dit is seker, en die mense van die land is ook al klaar baie bang vir ons.”

Lees volledige hoofstuk Josua 2