Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 41:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ismael was familie van die konings van Juda en hy was een van hulle belangrike amptenare. Hy en tien manne het in die sewende maand na Gedalja toe gekom in die stad Mispa. Toe hulle een dag daar in Mispa saam geëet het,

2. het Ismael en die tien manne by hom opgestaan en hulle het vir Gedalja met swaarde gekap en doodgemaak. Gedalja was die man vir wie die koning van Babel gekies en aangestel het om oor die land te regeer.

3. Ismael het ook al die Judeërs doodgemaak wat by Gedalja was, en al die soldate van die Galdeërs wat daar was.

4-5. Op die tweede dag daarna het daar mans uit die stede Sigem, Silo en Samaria in Mispa aangekom. Dit was 80 mans. Niemand buite die stad het toe geweet dat Ismael vir Gedalja vermoor het nie. Die mans het hulle baarde afgeskeer en hulle klere geskeur en hulleself stukkend gesny. Hulle het koring-offers en wierook by hulle gehad, hulle wou dit na die tempel van die Here bring.

6. Ismael het uit Mispa gegaan om hulle te ontmoet. Toe hy by hulle kom, het hy gehuil en vir hulle gesê: “Kom na Gedalja toe.”

7. Maar toe hulle in die stad kom, het Ismael en die manne by hom begin om daardie mans dood te maak en hulle het die lyke van die mans in ’n gat gegooi.

8. Tien van die mans het vir Ismael gesê: “Jy moet ons nie doodmaak nie, want ons het baie koring, gars, olyf-olie en heuning in die veld weggesteek.”Ismael het toe nie die tien mans doodgemaak saam met die ander mans nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 41