Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33:12-26 Bybel vir Almal (ABA)

12. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Hierdie plek is nou net hope klippe, en hier is nie een mens of dier nie. Maar hier sal weer weiveld wees waar die wagters hulle skape en bokke oppas.

13. Dit sal gebeur in die stede van die Bergland, in die stede van die Laeveld, in die stede van die Suid-land, in die land Benjamin, rondom Jerusalem, en in die stede van Juda. Die mense sal weer hulle skape tel.”Dit sê die Here.

14. Die Here sê: “Kyk, die tyd sal kom wanneer Ek sal doen wat Ek belowe het toe Ek gesê het daar sal ’n goeie ding gebeur met die volk Israel en die volk Juda.

15. Daardie tyd sal Ek ’n regte afstammeling van Dawid koning laat word, en hy sal reg doen aan die mense in die land.

16. Daardie tyd sal Ek Jerusalem red, en sy mense sal veilig woon. Die naam van die stad sal wees: ‘Die Here doen reg aan ons.’ ”

17. Ja, die Here sê: “Daar sal altyd iemand van die nageslag van Dawid wees wat op die troon van die volk Israel sit.

18. En daar sal altyd ’n priester of ’n Leviet wees wat vir My brand-offers en koring-offers of ander offers bring.”

19. Jeremia het gehoor die Here sê vir hom:

20. “Die Here sê: Ek het ’n ooreenkoms met die dag en die nag gemaak, sodat die dag en die nag sal kom wanneer hulle moet kom. Julle kan nooit daardie ooreenkoms breek nie.

21. “Net so sal Ek nooit my verbond met Dawid breek nie, iemand van sy nageslag sal altyd koning wees. Ek sal ook nooit my verbond breek met die priesters en die Leviete wat vir My werk nie,

22. want Ek sal die nageslag van Dawid en die Leviete wat vir My werk, baie laat word, so baie soos die sterre in die lug, niemand kan hulle tel nie. Hulle sal so baie wees soos die sand by die see, niemand kan dit meet nie.”

23. Jeremia het gehoor die Here sê vir hom:

24. “Het jy gehoor wat sê hierdie volk? Hulle sê Ek het die twee groepe stamme wat Ek gekies het, gelos. Hulle dink my volk beteken niks. Hulle dink die Israeliete kan nie meer ’n volk wees nie.

25. Maar Ek sê: Ek sal nooit my verbond met die dag en die nag breek nie, en Ek sal ook nie alles wat in die hemel en op die aarde gebeur, laat ophou nie.

26. Net so sal Ek nooit die nageslag van Jakob los nie. Ek sal aanhou om mense te kies van my dienaar Dawid se nageslag, hulle sal regeer oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob. Ek sal dit weer goed laat gaan met hulle, Ek sal jammer wees vir hulle en Ek sal hulle help.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 33