Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:16-33 Bybel vir Almal (ABA)

16. “Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid. Ek het gesê:

17. ‘Ag, Here, my Here, U het die hemel en die aarde gemaak met u eie groot krag. Daar is niks wat U nie kan doen nie.

18. U is goed vir duisende mense maar U straf mense oor die sondes wat hulle voorvaders gedoen het. U is die Groot God, die God wat oorlog kan maak, u Naam is Here wat oor alles regeer.

19. U besluit oor belangrike dinge en U doen groot dinge. U sien alles wat mense doen, U kyk hoe hulle gelewe het en wat hulle gedoen het, en U gee vir elkeen wat hy moet kry.

20. U het tekens en wonderwerke gedoen in die land Egipte. Die Israeliete en die ander mense weet dit vandag nog, en almal eer U.

21. U het tekens en wonderwerke gedoen en U het u volk Israel uit die land Egipte gebring met u eie groot krag, en die Egiptenaars het bang geword vir U.

22. U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U belowe het om vir hulle voorvaders te gee. Dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is.

23. U volk het gekom en hulle het in hierdie land kom woon, maar hulle was ongehoorsaam aan U en aan u wette, hulle het nie gedoen wat U wil hê nie, en daarom het U hulle gestraf.

24. Die Galdeërs maak oorlog teen ons. Kyk, hulle het klaar grond teen die muur gegooi sodat hulle oor die muur kan klim. In die stad is daar hongersnood, en die mense sterf van pes. Alles wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self.

25. Here, my Here, U het vir my gesê ek moet die grond koop en getuies moet dit sien, maar U gee nou die stad vir die Galdeërs.’ ”

26. Die Here het toe vir Jeremia gesê:

27. “Luister, Ek is die Here, die God van al die mense. Ek kan alles doen, niks is onmoontlik vir My nie.

28. Daarom sal Ek vir die Galdeërs en die koning van Babel help om die oorlog teen hierdie stad te wen.

29. Die Galdeërs wat nou oorlog maak teen hierdie stad, sal inkom en hulle sal die stad aan die brand steek. Hulle sal die huise verbrand waar die mense van Jerusalem op die dakke wierook-offers gebring het vir Baäl, en waar hulle drank-offers uitgegooi het vir ander gode om My te terg.

30. Ja, die Israeliete en die Judeërs het vandat hulle jonk was net dinge gedoen waarvan Ek nie hou nie. Hulle het afgodsbeelde gemaak en hulle het My geterg.

31. Hulle het My kwaad gemaak vandat hulle hierdie stad gebou het tot vandag toe, en Ek wil die stad nou laat verdwyn, Ek wil dit nie sien nie.

32. Ek wil dit doen oor al die slegte dinge wat die Israeliete en die Judeërs gedoen het om My te terg, hulle en hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters en hulle profete, die mense van Juda en die mense wat in Jerusalem woon.

33. Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesig nie. Ek het aangehou om vir hulle te leer, maar hulle het nie geluister nie en hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32