Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:19-26 Bybel vir Almal (ABA)

19. Dit sal gebeur omdat hulle nie geluister het na wat Ek gesê het nie. Ek het aangehou om my dienaars, die profete, na hulle toe te stuur, maar hulle het nie geluister nie. Dit sê die Here.

20. “En julle in Babel, julle moet hoor wat sê die Here, julle almal wat Hy uit Jerusalem na Babel laat gaan het.

21. Agab seun van Kolaja en Sedekia seun van Maäseja sê die Here het hulle gestuur, maar hulle het vals boodskappe gebring. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Ek sal hulle vir koning Nebukadnesar van Babel gee, en hy sal hulle doodmaak, en julle sal dit sien.

22. Wanneer die mense van Juda wat nou in Babel is, iemand wil vervloek, dan sal hulle sê: ‘Ons bid dat die Here met jou sal doen wat Hy met Sedekia en Agab gedoen het. Nebukadnesar het hulle in die vuur gebraai.’

23. Dit sal gebeur omdat Sedekia en Agab by die Israeliete iets gedoen het wat Ek haat. Hulle het by ander mans se vroue geslaap en hulle het gesê Ek het hulle gestuur, maar hulle het vals boodskappe gebring. Ek het nie vir hulle gesê om dit te doen nie. Ek weet wat hulle gedoen het, en Ek is ’n getuie teen hulle. Dit sê die Here.”

24. Die Here het vir Jeremia gesê: “Jy moet ook praat met Semaja van die stad Negelam. Jy moet vir hom sê:

25. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Jy het briewe gestuur na al die mense in Jerusalem en na die priester Sefanja seun van Maäseja en na al die ander priesters. Niemand het gesê jy moet dit doen nie. Jy het vir Sefanja geskryf en gesê:

26. ‘Die Here het jou gekies om priester te wees in die plek van die priester Jojada. Jy moet kyk dat alles in die tempel goed gaan. Jy moet elke mal mens wat sê hy is ’n profeet, in die blok sit en jy moet hom vasmaak met ’n ysterband om sy nek.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29