Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 13:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir my gesê: “Jy moet vir jou ’n linne-skort gaan koop en dit aantrek, maar jy moet dit nie nat laat word nie.”

2. Ek het gedoen wat die Here gesê het, ek het die linne-skort gekoop en ek het dit aangetrek.

3. Toe sê die Here vir my:

4. “Vat die linne-skort wat jy gekoop het en wat jy aangetrek het en gaan na die Fara-vallei. Steek die linne-skort daar weg tussen die rotse.”

5. Ek het toe gedoen wat die Here gesê het. Ek het gegaan en ek het die linne-skort in die Fara-vallei weggesteek.

6. Ná ’n lang tyd het die Here vir my gesê: “Gaan na die Fara-vallei en gaan haal die linne-skort wat Ek vir jou gesê het om daar weg te steek.”

7. Ek het na die Fara-vallei gegaan en ek het gegrawe en die linne-skort uitgehaal uit die plek waar ek dit weggesteek het. Ek het gesien dit is vrot, ’n mens kan dit nie meer gebruik nie.

8. Toe hoor ek die Here praat met my.

9. Hy het gesê: “Die mense van Juda en van die groot stad Jerusalem is trots op baie dinge, maar Ek sal al die dinge vrot laat word, soos die linne-skort.

10. Hierdie slegte volk wil nie gehoorsaam wees aan My nie, hulle is hardkoppig, hulle doen net wat hulle wil, hulle dien ander gode en buig voor die gode. Hulle het geword soos hierdie linne-skort wat ’n mens nie kan gebruik nie.

11. ’n Mens maak ’n linne-skort vas om sy heupe. Net so het Ek die hele volk Israel en die hele volk Juda aan My vasgemaak. Ek wou hê hulle moes my volk wees en Ek wou trots wees op hulle, maar hulle was ongehoorsaam.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 13