Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 50:1-19 Bybel vir Almal (ABA)

1. Nadat Jakob gesterf het, het Josef oor hom gehuil. Hy het oor sy pa se lyk gebuk en hom gesoen.

2. Josef het vir die dokters gesê hulle moet sy pa se lyk balsem. Die dokters het Jakob se lyk gebalsem.

3. Hulle het 40 dae gewerk om iemand te balsem. Ná die 40 dae het die hele Egipte 70 dae lank oor Jakob gerou.

4. Toe die routyd verby was, het Josef vir die mense in die farao se paleis gesê: “Help my asseblief. Gaan praat met die farao en sê vir hom

5. ek het vir my pa belowe dat wanneer hy dood is, dan sal ek hom gaan begrawe in sy graf wat hy in Kanaän gereedgemaak het. Ek wil nou asseblief my pa gaan begrawe. Daarna sal ek terugkom.”

6. Die farao het vir Josef gesê: “Gaan begrawe jou pa soos jy vir hom belowe het.”

7. Josef het na Kanaän gegaan om sy pa te begrawe. Al die amptenare van die farao het saam met hom gegaan, die raadgewers in sy paleis en die leiers van Egipte.

8. Josef se hele familie en sy broers en sy pa se familie het ook saamgegaan. Net die kinders en die skape en bokke en beeste het in Gosen agtergebly.

9. Daar het ook baie oorlogkarre en soldate op perde saamgegaan.

10. Naby die Jordaan-rivier het hulle by die dorsvloer van Atad gekom. Hulle het daar sewe dae lank oor hulle pa gehuil en getreur.

11. Toe die mense van Kanaän sien hoe Josef-hulle treur, het hulle gesê die Egiptenaars treur en rou baie. Daarom het hulle die plek Abel-Misrajim genoem. Die plek was oos van die Jordaan-rivier.

12. Jakob se seuns het gedoen wat hy vir hulle gevra het, hulle het hulle pa begrawe.

13. Sy seuns het sy lyk na Kanaän geneem en hulle het hom begrawe in die grot op die Makpela-grond. Dit is die grond wat Abraham van Efron die Hetiet gekoop het sodat hy ’n graf kon hê. Dit was naby Mamre.

14. Nadat Josef sy pa begrawe het, het hy teruggegaan na Egipte, hy en sy broers en almal wat saam met hom gegaan het om sy pa te begrawe.

15. Nadat Jakob gesterf het, het Josef se broers bekommerd geword en hulle het vir mekaar gesê: “Nou sal Josef dink aan die slegte dinge wat ons aan hom gedoen het, en hy sal ons terugbetaal. Hy sal ook aan óns slegte dinge doen. Hy sal ons vyand word.”

16. Hulle stuur toe ’n boodskap vir Josef en sê vir hom: “Pa het voor sy dood gesê

17. ons moet jou vra om ons te vergewe. Ons het ’n baie verkeerde ding gedoen teen jou. Ons het groot sonde gedoen. Daarom, Josef, vergewe asseblief die verkeerde ding wat ons gedoen het. Ons is ook dienaars van jou pa se God.”Josef het gehuil toe hulle dit vir hom sê.

18. Sy broers kom toe self en buig voor Josef en hulle sê: “Hier is ons. Ons is jou slawe.”

19. Maar Josef het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, ek is nie God nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 50