Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 45:7-19 Bybel vir Almal (ABA)

7. God het my vóór julle gestuur om julle te help sodat daar van julle mense in die land kan aanhou lewe en sodat ek baie mense kan red.

8. Dit was nie júlle wat my hiernatoe laat kom het nie, dit was Gód. Hy het my gekies om vir die farao te sê wat hy moet doen. Ek is ook die hoof van die farao se hele huis, en die hoof oor die hele Egipte.

9. “Gaan nou dadelik na Pa toe en sê vir hom sy seun Josef sê: ‘God het my die hoof oor die hele Egipte gemaak. Pa moet na my toe kom, moenie wag nie.

10. Pa kan in Gosen woon en naby my wees, jy en jou kinders en jou kleinkinders en jou skape en bokke en beeste, alles wat aan Pa behoort.

11. Dan kan ek vir Pa hier sorg, want daar sal nog vyf jaar lank min kos wees. As Pa na my toe kom, dan sal Pa nie arm word nie, jy en jou seuns en almal by jou.’

12. “Julle kan sien dit is ek, en Benjamin kan ook sien dit is ek, Josef, wat met julle praat.

13. Gaan vertel vir Pa ek is ’n belangrike man in Egipte. Vertel vir hom van alles wat julle hier sien, en maak gou, bring Pa na my toe.”

14. Toe sit Josef sy arms om sy broer Benjamin se nek en hy huil. Benjamin het ook vir Josef omhels en gehuil.

15. Josef het al sy broers gesoen en hy het by hulle gestaan en huil. Daarna het sy broers met hom gepraat.

16. Die mense in die farao se huis het hiervan gehoor en gesê: “Josef se broers het hiernatoe gekom.”Die farao en sy amptenare was bly daaroor.

17. Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers hulle moet in Egipte kom woon. Hulle moet hulle goed op hulle donkies laai. Hulle moet kos saamneem en eers teruggaan na Kanaän.

18. Hulle moet hulle pa en hulle families gaan haal en dan na my toe kom. Ek sal vir hulle die beste plek in Egipte gee, en hulle sal hier lekker kan lewe.

19. Jou broers moet waens uit Egipte saamneem vir hulle kinders en vroue. Hulle pa moet ook daarop ry en hiernatoe kom.

Lees volledige hoofstuk Genesis 45