Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:46-57 Bybel vir Almal (ABA)

46. Josef was 30 jaar oud toe hy begin werk het by die farao, die koning van Egipte. Nadat die farao met hom gepraat het, het Josef deur die hele Egipte gery.

47. Daar was sewe jaar lank baie kos in Egipte.

48. Josef het al die koring laat bymekaarmaak in die sewe jaar toe daar baie kos in Egipte was. Hy het die koring-oes van elke deel van die land gebêre in die stede wat daar naby was.

49. Josef het die koring in die stoorkamers gebêre. Dit was baie, so baie soos die sand van die see. Hy het later opgehou om alles te weeg, want dit was te veel.

50. Josef en sy vrou Asenat het twee seuns gehad. Hulle is gebore vóór die tyd toe daar hongersnood was. Asenat was die dogter van Poti-Fera, die priester van On.

51. Josef het sy oudste seun Manasse genoem. Hy het gesê: “God het my gehelp om te vergeet dat ek swaargekry het, en ook om te vergeet van my familie.”

52. Josef het sy tweede seun Efraim genoem. Hy het gesê: “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek baie swaar gekry het.”

53. Die sewe goeie jare het verbygegaan, die jare toe daar baie kos in Egipte was.

54. Daarna het die sewe slegte jare begin, die jare toe daar min kos was. Dit was presies soos Josef gesê het. Daar was min kos in al die ander lande, maar in Egipte was daar genoeg kos.

55. Toe die mense van Egipte begin honger ly, het hulle vir die farao kos gaan vra. Die farao het vir al die mense van Egipte gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy vir julle sê.”

56. Toe die kos in die land min word, het Josef die stoorkamers oopgemaak en hy het koring aan die Egiptenaars verkoop.

57. Die mense van die ander lande het ook na Egipte gekom om koring te koop, want daar was baie min kos op die hele aarde.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41