Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:28-46 Bybel vir Almal (ABA)

28. Dit is wat ek vir jou moet sê: God het vir jou gewys wat Hy gaan doen.

29. Daar sal nou sewe jaar lank baie kos in die hele Egipte wees, meer as genoeg.

30. Daarna sal daar sewe jaar lank hongersnood wees. Die mense sal vergeet hoe baie kos daar was. Die mense en die land sal arm word.

31. Die mense sal nie meer kan onthou van die baie kos wat daar was nie, omdat dit dan so sleg sal gaan.

32. Die droom het twee maal na jou toe gekom, want God het dit klaar besluit en Hy sal nie lank wag om dit te doen nie.”

33. Josef het gesê: “Jy moet nou ’n slim man kies en hom die hoof oor die mense van Egipte maak.

34. Dit is wat jy moet doen: Jy moet amptenare kies en aanstel oor Egipte en hulle moet een vyfde van die koring-oes bymekaarmaak in die sewe goeie jare.

35. Wanneer hulle al die kos bymekaargemaak het, dan moet hulle die koring bêre en oppas in die farao se stoorkamers in die stede.

36. Daar sal dan kos wees om te gebruik in die sewe jare wanneer die koring-oes min sal wees in Egipte. Dan sal dit nie so sleg gaan met die land nie.”

37. Die farao en al sy amptenare het geluister na wat Josef gesê het en hulle het sy plan aanvaar.

38. Die farao sê toe vir sy amptenare: “Daar is nie ’n ander man soos hierdie man nie. God het hierdie dinge vir hom gewys.”

39. Die farao het vir Josef gesê: “God het alles vir jou geleer, en daar is niemand wat so slim is soos jy nie.

40. Jy sal die hoof van die land wees. Al my mense moet luister na jou en hulle moet doen wat jy sê. Net ek sal belangriker wees as jy, omdat ek die farao is.

41. Ek maak jou die hoof oor die hele Egipte.”

42. Die farao haal toe sy ring af en hy sit dit aan Josef se vinger. Hy het vir Josef linne-klere gegee om aan te trek en hy het ’n goue ketting om sy nek gehang.

43. Hy het vir Josef op sy tweede beste oorlogkar laat ry, en die mense het geskree: “Julle moet buig voor Josef!”So het die farao vir Josef die hoof gemaak oor die hele Egipte.

44. Die farao het vir Josef gesê: “Ek is die farao, maar almal in Egipte moet luister na jou, niemand mag iets doen as jy dit nie sê nie.”

45. Die farao het vir Josef ’n ander naam gegee. Hy het hom Safenat-Paneag genoem en hy het vir Josef ’n vrou gegee. Haar naam was Asenat en sy was die dogter van Poti-Fera, die priester van die stad On.

46. Josef was 30 jaar oud toe hy begin werk het by die farao, die koning van Egipte. Nadat die farao met hom gepraat het, het Josef deur die hele Egipte gery.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41