Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 38:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. In daardie tyd het Juda weggegaan van sy broers. Hy het sy tent opgeslaan in Adullam, naby ’n ander man, sy naam was Gira.

2. Daar het Juda ’n meisie van Kanaän gesien. Haar pa se naam was Sua. Juda het met haar getrou en hy het seks gehad met haar.

3. Sy het swanger geword en ’n seun gekry. Juda het hom Er genoem.

4. Sy het weer swanger geword en weer ’n seun gekry en sy het hom Onan genoem.

5. Sy het nog ’n seun gekry en sy het hom Sela genoem. Hulle was in Kesib toe haar seun Sela gebore is.

6. Juda het ’n vrou gekies vir sy oudste seun Er. Die vrou se naam was Tamar.

7. Juda se oudste seun Er was ’n slegte man, en daarom het die Here hom laat sterf.

8. Juda het toe vir sy tweede seun Onan gesê: “Gaan slaap by jou broer Er se weduwee sodat sy ’n kind kan kry, want jy is haar swaer. Doen dit sodat daar ’n nageslag vir jou broer kan wees.”

9. Maar Onan het besef dat die nageslag wat uit haar gebore sou word, nie sy nageslag sou wees nie. Hy het seks gehad met sy broer se weduwee, maar elke maal het hy sy saad op die grond laat val. Hy het dit gedoen omdat hy nie vir sy broer ’n nageslag wou laat kry nie.

10. Wat Onan gedoen het, was verkeerd. Die Here was ontevrede daaroor en Hy het vir Onan ook laat sterf.

11. Juda sê toe vir sy skoondogter Tamar: “Gaan terug na jou pa se huis en bly ’n weduwee totdat my seun Sela groot is.”Juda was bang dat Sela ook sou sterf, soos sy broers. Tamar het in haar pa se huis gaan bly.

Lees volledige hoofstuk Genesis 38