Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 34:14-25 Bybel vir Almal (ABA)

14. Hulle sê toe: “Ons mag nie ons suster gee vir ’n man wat nie besny is nie. Dit sal ’n skande wees.

15. Ons sal net inwillig en ja sê as julle soos ons word, julle moet al julle mans en seuns laat besny.

16. Dan sal ons ook ons dogters vir julle seuns gee en ons sal julle dogters vir ons seuns neem sodat hulle kan trou. Ons sal dan by julle woon en ons sal een volk word.

17. Maar as julle nie na ons luister en julle laat besny nie, dan sal ons ons suster vat en weggaan.”

18. Gamor en sy seun Sigem was tevrede met Jakob en sy seuns se antwoord.

19. Sigem was haastig om te doen wat hulle gevra het, want hy was baie lief vir Jakob se dogter. Hy was die belangrikste man in sy pa se familie.

20. Gamor en sy seun Sigem het na die stad se poort gegaan. Hulle het met die stad se manne gepraat en gesê:

21. “Hierdie mense is vriendelik met ons. Laat hulle in die land woon en hier rondtrek. Die land is baie groot, dit lê oop voor hulle. Ons seuns kan dan met hulle dogters trou, en ons kan ons dogters vir hulle seuns gee.

22. Maar ons moet eers al ons mans besny soos hulle dit doen, dan sal hierdie manne inwillig en ja sê om by ons te woon en om saam met ons een volk te word.

23. Hulle diere, al hulle goed en al hulle vee sal dan aan ons behoort, maar dan moet ons inwillig en doen wat hulle vra. Dan sal hulle by ons woon.”

24. Almal wat deur die poort van die stad gekom het, het geluister na Gamor en sy seun Sigem. Al die mans het hulle laat besny, almal wat deur die poort van die stad gekom het.

25. Drie dae later, toe dit nog baie seer was nadat die mans hulle laat besny het, het Jakob se seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, hulle swaarde gevat en hulle het na Sigem se stad gegaan. Hulle het maklik in die stad ingekom, niemand het hulle gekeer nie. Hulle het al die mans doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk Genesis 34