Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 33:9-20 Bybel vir Almal (ABA)

9. Toe sê Esau: “My broer, ek het self baie goed. Hou dit alles, dit moet joune bly.”

10. Maar Jakob het gesê: “Nee, as Meneer vriendelik wil wees met my, dan moet jy asseblief my present aanvaar, want ek het dit vir jou gegee soos ’n mens iets vir God gee. En jy was vriendelik met my.

11. Neem asseblief die present wat ek vir jou gebring het, want God was goed vir my, en ek het alles wat ek moet hê.”So het Jakob aangehou, en Esau het toe die present geneem.

12. Esau het vir Jakob gesê: “Kom ons gaan verder. Ek sal voor jou gaan.”

13. Maar Jakob het vir hom gesê: “Meneer, jy weet die kinders by ons is klein en swak. Ek moet ook nog die skape en beeste oppas, en die lammers en kalwers wat aan hulle suip. Hulle sal doodgaan as ek hulle net een dag te vinnig aanjaag.

14. Meneer, gaan asseblief voor my. Dan kan ek stadig agter jou loop, so vinnig soos die diere en die kinders kan loop, totdat ek by Meneer in Seïr-land kom.”

15. Toe sê Esau: “Ek sal party van my manne by jou laat bly.”Maar Jakob sê: “Hoekom wil jy dit doen? Glo my asseblief.”

16. Esau het daardie dag teruggegaan na Seïr-land.

17. Jakob het na ’n ander plek gegaan en hy het daar vir hom ’n huis gebou. Hy het takke geneem en hy het veekrale gemaak vir sy skape en bokke. Daarom het hulle die plek Sukkot genoem.

18. Jakob het later veilig aangekom in Sigem se stad in Kanaän. Hy het van die stad Paddan-Aram daarnatoe gegaan. Hy het sy tente naby die stad opgeslaan.

19. Hy het die stuk grond gekoop waar hy sy tente opgeslaan het. Hy het dit gekoop by die seuns van Gamor, Sigem se pa. Hy het 100 kesita daarvoor betaal.

20. Jakob het daar ’n altaar gebou en hy het dit genoem “Die God van Israel is God, net Hý is God.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 33