Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:11-25 Bybel vir Almal (ABA)

11. Here, beskerm my asseblief teen my broer Esau, want ek is bang vir hom. Ek is bang dat hy my en die vroue en kinders sal aanval.

12. Here, U het belowe en vir my gesê: ‘Ek sal goed wees vir jou. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see. Dit is so baie dat ’n mens dit nie kan tel nie.’ ”

13. Jakob het daardie nag daar geslaap. Hy het van sy goed geneem en hy het ’n present vir sy broer Esau gestuur.

14. Dit was 200 bok-ooie en 20 bok-ramme, 200 skaap-ooie en 20 skaap-ramme,

15. 30 kameel-koeie en hulle kalwers, 40 koeie en 10 bulle, 20 donkie-merries en 10 donkie-hingste.

16. Jakob het die diere vir sy slawe gegee, elke trop diere apart, en hy het vir sy slawe gesê: “Loop voor my, maar hou elke trop diere apart.”

17. Jakob het vir die eerste slaaf gesê: “As my broer Esau by jou kom en hy vra vir jou wie se slaaf is jy, waarnatoe gaan jy en aan wie behoort hierdie trop diere,

18. dan moet jy vir hom sê: ‘Dit behoort aan Meneer se slaaf Jakob. Dit is ’n present wat hy vir Meneer stuur. Hy kom self ook, hy is agter ons.’ ”

19. Jakob het dieselfde vir die tweede slaaf gesê, ook vir die derde slaaf, en vir al die ander slawe wat agter die troppe geloop het. Hy het gesê wat hulle vir Esau moet sê wanneer hulle hom kry.

20. Hulle moes ook vir Esau sê: “Meneer se slaaf Jakob kom ook, hy is agter ons.”Jakob het gedink: Ek stuur die presente vir Esau, want ek wil hom vriendelik maak. As ek by hom kom, dan sal hy miskien vriendelik wees met my.

21. Jakob het eers die presente gestuur en toe het hy self gegaan. Hy het daardie nag in die kamp gebly.

22. Jakob het in die nag opgestaan. Hy het sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf kinders geneem, en hulle het deur die Jabbok-rivier gegaan.

23. Hy het hulle deur die rivier laat gaan en daarna het hy ook sy diere deur die rivier laat gaan.

24. Jakob het alleen agtergebly. ’n Man het gekom en met hom gestoei totdat dit die volgende dag lig begin word het.

25. Toe die man sien dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het hy vir Jakob op sy heup geslaan. Jakob se heup het seergekry, en hy het moeilik geloop.

Lees volledige hoofstuk Genesis 32