Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:7-25 Bybel vir Almal (ABA)

7. maar julle pa het my bedrieg en hy het elke maal my betaling verander, tien maal. Maar God het my beskerm teen sy skelm planne.

8. Toe julle pa sê dat die skape en bokke met kolle my betaling sal wees, toe kry al die skape en bokke lammers met kolle. En toe hy sê dat die skape en bokke met strepe my betaling sal wees, toe kry die skape en bokke gestreepte lammers.

9. So het die Here julle pa se diere weggevat en vir my gegee.

10. In die tyd toe die skape en bokke gepaar het, het ek gedroom en gesien al die bok-ramme wat die ooie dek, het strepe of kolle.

11. Ek het gedroom die Engel van God sê vir my: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’

12. Toe sê Hy: ‘Jy moet goed kyk: Al die bok-ramme wat met die ooie paar, het strepe of kolle. Ek het alles gesien wat Laban aan jou gedoen het.

13. Ek is die God wat by Bet-El aan jou verskyn het. Jy het daar olyf-olie op die gedenksteen gegooi toe jy belowe het om My te dien. Maak nou gereed en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na die land waar jy gebore is.’ ”

14. Ragel en Lea sê toe vir Jakob: “Ons sal niks van ons pa erf nie.

15. Hy doen met ons soos hy doen met mense van ander volke. Hy het ons lank gelede aan jou verkoop en hy het die geld opgebruik.

16. Al die goed wat God van ons pa weggevat het, behoort aan ons en aan ons kinders. Jy moet nou doen wat God vir jou gesê het.”

17. Jakob het toe gegaan. Hy het sy kinders en sy vroue op kamele laat klim

18. en hy het al sy diere saamgeneem, ook al sy goed wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het. Hy het na Kanaän gegaan, na sy pa Isak toe.

19. Laban het sy skape en bokke gaan skeer, en toe het Ragel die beeldjies van haar pa se afgode gesteel.

20. Jakob het vir Laban bedrieg, want hy het nie vir Laban vertel dat hy wil vlug nie.

21. Jakob het al sy goed geneem en gevlug. Hy het deur die Eufraat-rivier getrek en na die Gilead-berg gegaan.

22. Drie dae later het Laban uitgevind dat Jakob gevlug het.

23. Laban het die mans in sy familie saamgeneem en hulle het vir Jakob gevolg en gejaag. Ná sewe dae het hulle hom by die Gilead-berg gekry.

24. Daardie nag het Laban gedroom dat God na hom toe kom en vir hom sê: “Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.”

25. Toe Laban by Jakob kom, het Jakob klaar sy tent by die Gilead-berg opgeslaan. Laban en sy manne het hulle tente ook daar opgeslaan.

Lees volledige hoofstuk Genesis 31