Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:19-32 Bybel vir Almal (ABA)

19. Lea het weer swanger geword en sy het ’n sesde seun vir Jakob gekry.

20. Toe sê Lea: “God het vir my ’n groot present gegee. Nou sal my man by my bly en hy sal onthou dat ek sy vrou is, want ek en hy het ses seuns gekry.”Sy het haar seun toe Sebulon genoem.

21. Lea het daarna ’n dogter gekry en sy het haar Dina genoem.

22. Die Here het aan Ragel gedink en Hy het geluister na haar gebed.

23. Sy het swanger geword en sy het ’n seun gekry. Sy sê toe: “God het my gehelp en ek is nie meer skaam nie.”

24. Sy het hom Josef genoem en gesê: “Ek bid dat die Here nog ’n seun vir my sal gee.”

25. Nadat Josef gebore is, het Jakob vir Laban gesê: “Laat my nou gaan na my eie plek en na my eie land.

26. Gee my vroue en my kinders en laat my gaan. Jy weet ek het vir jou gewerk om hulle te kry.”

27. Maar Laban sê vir hom: “Ek sal dankbaar wees as jy by my bly. Ek het gesien dat die Here my seën omdat jy hier is.

28. Jy moet sê hoeveel ek jou moet betaal, en ek sal dit vir jou gee.”

29. Toe sê Jakob vir Laban: “Jy weet hoe hard ek vir jou gewerk het en hoe goed dit met jou beeste en skape gegaan het vandat ek hulle oppas.

30. Jy het min skape gehad voor ek by jou begin werk het, maar hulle het baie meer geword. Die Here het jou geseën vandat ek hier gekom het. Maar wanneer kan ek vir my eie huis werk?”

31. Toe vra Laban vir hom: “Wat moet ek vir jou gee?”Jakob het vir hom gesê: “Jy moenie vir my betaal nie, niks nie. Ek sal weer jou skape oppas en na hulle kyk, maar daar is een ding wat jy vir my moet doen.

32. Ek sal vandag tussen al jou skape en bokke deurloop. Ek sal al die bont skape en die skape wat kolle het, apart jaag, saam met al die swart skaap-ramme. Ook al die bont bok-ramme en die bok-ramme wat kolle het. Dit is wat jy vir my moet gee.

Lees volledige hoofstuk Genesis 30