Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:22-35 Bybel vir Almal (ABA)

22. Isak het verder getrek en hy het nog ’n put gegrawe. Die skaapwagters het nie gestry oor hierdie put nie. Hy noem die put toe “Oop Plek,” en hy sê: “Nou het die Here vir ons genoeg plek gegee. Dit sal nou met ons goed gaan in hierdie land.”

23. Daarna het Isak na die stad Berseba gegaan.

24. Daardie nag het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek sal jou seën en Ek sal jou nageslag baie maak. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Abraham.”

25. Isak het daar ’n altaar gebou. Hy het die Here aanbid. Isak het sy tent daar opgeslaan, en sy slawe het ’n put gegrawe.

26. Toe kom Abimelek uit Gerar na Isak toe. Abimelek se raadgewer Agussat, en Pikol, die hoof van sy leër, was saam met hom.

27. Isak sê toe vir hulle: “Hoekom kom julle na my toe? Ek weet julle haat my. Julle het my weggestuur van julle.”

28. Hulle sê toe vir Isak: “Ons het duidelik gesien dat die Here by jou is en dat Hy jou seën. Toe het ons gedink daar moet ’n ooreenkoms wees tussen ons.

29. Jy moet belowe dat jy nie slegte dinge sal doen aan ons nie. Ons het ook nie slegte dinge aan jou gedoen nie. Ek was net goed vir jou en ek laat jou in vrede gaan. Almal kan sien dat die Here jou seën.”

30. Isak het toe vir hulle ’n groot ete gegee, en hulle het geëet en gedrink.

31. Die volgende oggend vroeg het hulle ’n ooreenkoms gemaak. Isak het hulle laat gaan, en hulle het in vrede weggegaan.

32. Daardie dag het Isak se slawe na hom toe gekom en hulle het vir hom vertel van nog ’n put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry.”

33. Hy het die put toe Berseba genoem. Dit is vandag nog ook die stad se naam.

34. Toe Esau 40 jaar oud was, het hy getrou met twee vroue. Die een vrou was Jehudit, die dogter van Beëri, en die ander vrou was Basemat, die dogter van Elon. Altwee vroue was Hetiete.

35. Isak en Rebekka was baie ongelukkig oor hierdie twee vroue van Esau.

Lees volledige hoofstuk Genesis 26