Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:10-24 Bybel vir Almal (ABA)

10. Abimelek sê toe: “Wat het jy aan ons gedoen? As een van ons mans by jou vrou geslaap het, dan het ons sonde gedoen, en dan was dit jou skuld.”

11. Abimelek het vir al sy mense gesê: “Julle mag nie aan hierdie man of sy vrou raak nie. Die een wat dit doen, sal sterf. Dit is seker!”

12. Isak het koring gesaai in daardie land en hy het daardie jaar 100 maal meer koring gekry as wat hy gesaai het. Die Here het hom geseën,

13. en hy het ’n baie ryk man geword.

14. Hy het baie skape en bokke gehad, ook baie beeste en baie slawe. Hy het baie goed gehad, en die Filistyne het jaloers geword.

15. Die slawe van Isak se pa Abraham het voorheen putte daar gegrawe, en die Filistyne het al die putte vol grond gegooi.

16. Abimelek het ook nog vir Isak gesê: “Jy moet weggaan van ons, want jy het baie ryker as ons geword.”

17. Isak het toe weggegaan en hy het gaan woon by die Gerar-riviertjie.

18. Isak het al die putte oopgemaak wat Abraham gegrawe het en wat die Filistyne toegegooi het. Abraham het name gegee vir die putte, en Isak het weer dieselfde name vir die putte gegee. Abraham was toe al dood.

19. Isak se slawe het ’n put gegrawe in ’n vallei en hulle het baie water gekry.

20. Die skaapwagters van Gerar het gestry met Isak se skaapwagters. Hulle het gesê: “Dit is ons water!”Isak noem toe die put “Stryery,” omdat hulle daar met sy skaapwagters gestry het.

21. Isak se skaapwagters het nog ’n put gegrawe, maar die skaapwagters van Gerar het nog altyd gekla. Toe noem Isak die put “Klagte.”

22. Isak het verder getrek en hy het nog ’n put gegrawe. Die skaapwagters het nie gestry oor hierdie put nie. Hy noem die put toe “Oop Plek,” en hy sê: “Nou het die Here vir ons genoeg plek gegee. Dit sal nou met ons goed gaan in hierdie land.”

23. Daarna het Isak na die stad Berseba gegaan.

24. Daardie nag het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek sal jou seën en Ek sal jou nageslag baie maak. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Abraham.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 26