Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:28-39 Bybel vir Almal (ABA)

28. Die dogter het huis toe gehardloop en sy het vir haar ma gaan vertel wat gebeur het.

29. Rebekka het ’n broer gehad. Sy naam was Laban. Laban het na die man toe gehardloop by die fontein.

30. Hy het die neusring gesien en die armbande aan sy suster se arms. Toe hy hoor sy suster Rebekka vertel wat die man gesê het, het hy na die man toe gegaan. Die man het by die kamele by die fontein gestaan.

31. Laban sê toe vir hom: “Kom saam. Die Here het jou geseën. Hoekom staan jy hier buite? Ek het al klaar die huis gereedgemaak vir jou en ook die plek vir die kamele.”

32. Hy het die man huis toe gebring, die kamele losgemaak en vir hulle strooi en kos gegee. Hy het vir die man water gegee om sy voete te was en ook vir die ander mans wat by hom was.

33. Hulle bring toe ook vir die man kos, maar hy sê: “Ek mag nie eet nie, ek moet eers vertel hoekom ek gekom het.”En Laban sê: “Praat.”

34. Toe sê hy: “Ek is ’n slaaf van Abraham.

35. Die Here het my eienaar baie geseën, en hy het ryk geword. Die Here het skape en bokke en beeste vir hom gegee, en ook silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies.

36. “My eienaar se vrou Sara het ’n seun gekry toe sy al oud was, en Abraham het vir die seun alles gegee wat hy het.

37. Maar my eienaar het vir my gesê: ‘Ek woon in die land van die Kanaäniete, maar ek wil nie hê my seun moet met een van hulle dogters trou nie.’“Ek moes dit belowe.

38. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet na my pa se familie toe gaan, na my eie mense toe, en jy moet daar vir my seun ’n vrou gaan haal.’

39. Ek het vir my eienaar gesê: ‘Maar miskien sal die vrou nie saam met my wil kom nie.’

Lees volledige hoofstuk Genesis 24