Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 21:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Maar God het vir Abraham gesê: “Moenie dink dit is verkeerd wat Sara gesê het oor jou seun en oor jou slavin nie. Luister na alles wat sy vir jou sê, want die nageslag van Isak sal jóú nageslag wees.

13. Maar Ek sal die seun van jou slavin ook ’n volk laat word, want hy is jou kind.”

14. Abraham het vroeg die volgende oggend brood en ’n velsak vol water geneem en hy het dit vir Hagar gegee. Hy het dit op haar skouer gesit en hy het haar en die kind weggestuur. Hagar het gegaan en sy het in die Berseba-woestyn rondgeswerf.

15. Toe die water in die velsak op was, het sy die kind onder ’n boompie neergesit.

16. Sy het ’n bietjie verder gaan sit, omtrent so ver soos ’n mens met ’n pyl kan skiet. Sy het gesê: “Ek wil nie sien hoe my kind sterf nie.”Sy het ’n bietjie verder gaan sit en sy het hard begin huil.

17. God het gehoor dat die seun huil. Die Engel van God het uit die hemel met Hagar gepraat en Hy het vir haar gevra: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het gehoor dat die seun huil daar waar hy lê.

18. Staan op en tel jou kind op. Help hom, want Ek sal hom ’n groot volk laat word.”

19. God het Hagar se oë oopgemaak, en sy het ’n fontein gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en sy het haar seun daarvan laat drink.

20. God was altyd by Ismael. Hy het grootgeword en in die woestyn gewoon. Hy het geleer om baie goed met ’n pyl en boog te skiet.

21. Hy het in die Paran-woestyn gewoon. Sy ma het vir hom ’n vrou uit Egipte gekry, en hy het met haar getrou.

22. In daardie tyd het koning Abimelek en Pikol, die hoof van sy leër, vir Abraham gesê: “God help jou met alles wat jy doen.

Lees volledige hoofstuk Genesis 21