Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:15-32 Bybel vir Almal (ABA)

15. Toe dit dag word, het die engele vir Lot gesê hy moet gou maak. Hulle het gesê: “Kom, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, sodat die Here jou nie ook straf wanneer Hy die stad straf nie.”

16. Lot het nog ’n bietjie gewag. Toe gryp die twee mans sy hand en sy vrou se hand en sy twee dogters se hande en hulle neem hulle almal tot buite die stad. Die Here wou Lot se lewe spaar.

17. Nadat die twee mans vir Lot en sy mense tot buite die stad gebring het, sê een van die mans: “Julle moet vlug as julle wil lewe! Moenie agtertoe kyk nie, en moenie êrens in die vallei stilstaan nie. Vlug na die berge, anders sal julle sterf!”

18. Maar Lot sê vir hulle: “Nee, Menere,

19. julle was baie vriendelik met my en julle het so baie vir my gedoen om my lewe te red. Maar ek kan nie na die berge vlug nie. Ek sal nie tot daar kan kom nie en ek sal sterf.

20. Hier naby is ’n stad. Dit is klein, maar ek kan tot daar vlug. Laat my asseblief daarnatoe vlug, ek sal daar veilig wees.”

21. Die engel sê toe vir Lot: “Goed, jy mag dit ook doen. Ek sal nie daardie stad verwoes nie.

22. Vlug gou daarnatoe, want ek kan niks doen voor jy daar gekom het nie.”Dit is hoekom hulle daardie stad Soar noem.

23. Toe die son opkom, het Lot in die stad Soar aangekom.

24. Die Here het toe swael wat brand en vuur uit die lug laat val op Sodom en Gomorra.

25. Hy het daardie stede verwoes, en die hele suide van die Jordaan-vallei, ook al die mense wat in die stede gewoon het, en al die plante.

26. Lot se vrou het agtertoe gekyk en toe verander sy in ’n soutpilaar.

27. Abraham het daardie oggend vroeg na die plek gegaan waar die Here met hom gepraat het.

28. Hy het gekyk na Sodom en Gomorra en na die hele suide van die Jordaan-vallei. Hy het rook gesien wat uit die aarde kom daar waar die stede was. Dit het gelyk soos rook uit ’n oond.

29. Toe God die stede in die suide van die Jordaan-vallei verwoes het, het Hy aan Abraham gedink en Hy het vir Lot laat uitgaan uit die stede wat Hy verwoes het. Dit was die stede waar Lot gewoon het.

30. Lot het weggegaan uit Soar en hy het in die berge in ’n grot gaan woon, want hy was bang om in Soar te woon. Sy twee dogters het saam met hom gegaan.

31. Die oudste dogter sê toe vir die jongste dogter: “Ons pa is oud en ons sal nie hier mans kan kry nie.

32. Kom ons gee vir Pa wyn om te drink en dan slaap ons by hom, sodat ons kinders kan kry van hom.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 19