Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die twee engele het in die aand in die stad Sodom gekom. Lot het by Sodom se poort gesit, en hy het hulle gesien. Hy het opgestaan om hulle te ontmoet en hy het met sy gesig teen die grond gaan lê.

2. Hy het gesê: “Menere, kom na my huis. Kom bly vannag daar en kom was julle voete. Dan kan julle môre vroeg opstaan en verder gaan.”Maar hulle het vir hom gesê: “Ons sal hier by die poort slaap.”

3. Lot het aangehou om hulle te nooi, en hulle het na sy huis gekom en in sy huis ingegaan. Lot het vir hulle kos gemaak. Hy het ongesuurde brood gebak en hulle het dit geëet.

4. Die mans van Sodom het om die huis kom staan voordat Lot-hulle gaan slaap het. Daar was ou mans en jong mans. Hulle het van oral in die stad gekom.

5. Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil seks hê met hulle.”

6. Lot het uit sy huis na hulle toe gegaan. Hy het die deur agter hom toegesluit

7. en vir hulle gesê: “My broers, asseblief, moenie ’n verkeerde ding doen nie.

8. Luister na my. Ek het twee dogters wat nog nie by ’n man geslaap het nie. Ek sal hulle na julle toe bring en julle mag dan met hulle doen wat julle wil. Maar julle mag niks doen aan hierdie mans nie, want hulle het na my huis gekom en ek moet hulle beskerm.”

9. Toe sê die mans van Sodom vir Lot: “Gee pad!”En hulle sê vir mekaar: “Ons het hierdie man toegelaat om by ons te kom woon, en nou wil hy vir ons sê wat reg is. Ons sal nog slegter dinge aan hom doen as aan hierdie twee mans.”Hulle het tot by Lot gehardloop en hulle wou die deur oopbreek.

10. Die twee mans wat in die huis was, gryp toe vir Lot en trek hom in die huis in en sluit die deur.

11. Hulle het al die mans wat voor die huis was, blind laat word, die jong mans en die ou mans, sodat hulle nie die deur van die huis kon kry nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 19