Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 17:9-21 Bybel vir Almal (ABA)

9. God het vir Abraham gesê: “Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag en hulle nageslagte.

10. Hier is die verbond wat jy en jou nageslag moet hou: Julle moet elke man en seun besny.

11. Dit sal die bewys wees van die verbond tussen My en julle.

12. As ’n seun ag dae oud is, dan moet julle hom besny. Julle moet dit doen met elke seun in julle huis, en met elke slaaf wat in julle huis gebore word. Julle moet dit ook doen met elke slaaf wat julle koop, elke slaaf wat nie julle nageslag is nie.

13. Elke seun in julle huis en ook elke slaaf wat julle gekoop het, moet besny word, sodat daar altyd aan julle liggame ’n bewys van my verbond kan wees.

14. “Julle moet elke man wat nie besny is nie, van hierdie volk afsny. Hy het nie my verbond gehou nie, hy het dit gebreek.”

15. God het ook vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie, haar naam moet nou Sara wees.

16. Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun kry. Ja, Ek sal haar seën, en uit haar nageslag sal volke en konings kom.”

17. Abraham het met sy gesig teen die grond gaan lê. Hy het gelag en gedink: Kan ’n man wat 100 jaar oud is, pa word van ’n kind? Kan Sara wat 90 jaar oud is, ’n kind kry?

18. Abraham sê toe vir God: “Ek bid dat U vir Ismael sal laat lewe.”

19. Maar God sê: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou ’n kind kry, en jy moet hom Isak noem. Ek sal ook met hóm ’n verbond maak, en die verbond sal altyd aanhou, ook met sy nageslag.

20. Ek het gehoor wat jy oor Ismael vra. Ek sal hom seën en hy sal baie kinders hê. Hy sal die voorvader van twaalf leiers wees, en sy nageslag sal ’n groot volk word.

21. “Maar Ek maak my verbond met Isak, die seun wat Sara oor ’n jaar vir jou sal kry.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 17