Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 10:6-18 Bybel vir Almal (ABA)

6. Gam se nageslag was die mense van die lande Kus, Egipte, Put en Kanaän.

7. Kus se nageslag was die mense van die lande Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabteka. Rama se nageslag was die mense van die lande Skeba en Dedan.

8. Kus het ook ’n seun gehad, sy naam was Nimrod. Hy het ’n baie sterk en belangrike man geword.

9. Hy was ’n goeie jagter. Die Here het hom so gemaak. Daarom, as iemand goed kan jag, dan sê die mense: “Hy is ’n goeie jagter, soos Nimrod.”

10. Nimrod was eers die koning van die stede Babel, Erek, Akkad en Kalne in die land Babel.

11. Hy het uit die land Babel na die land Assirië gegaan en hy het die stede Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou.

12. Hy het ook die stad Resen tussen Nineve en Kalag gebou. Resen was ’n groot stad.

13. Die mense van Egipte was die voorvaders van die Ludeërs, die Anammers, die Lehabeërs, die Naftoagiete,

14. en die mense van die lande Patros, Kasluag en Kaftor. Die mense van Kasluag was die voorvaders van die Filistyne.

15. Die mense van Kanaän was die voorvaders van die mense van die lande Sidon en Het. Sidon was die oudste.

16. Kanaän was ook die voorvader van die Jebusiete, die Amoriete, die Girgasiete,

17. die Hewiete, die Erekiete, die Siniete,

18. die Arwadters, die Semariërs en die Hamatters. Later het Kanaän se families oral gaan woon.

Lees volledige hoofstuk Genesis 10