Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 1:1-20 Bybel vir Almal (ABA)

1. Alles het begin toe God die hemel en die aarde gemaak het.

2. Daar was niks op die aarde nie, niemand kon daar woon nie. Daar was net ’n groot see, en dit was baie donker. Die Gees van God het oor die water beweeg soos ’n sterk wind.

3. God het gesê: “Daar moet lig wees.”En toe was daar lig.

4. God het gesien die lig is goed. Hy het die lig en die donker van mekaar geskei.

5. God het die lig “dag” genoem en Hy het die donker “nag” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die eerste dag.

6. God het gesê: “Daar moet ’n hemeldak wees, die lug daarbo, en dit moet die water wat bo is, skei van die water wat onder is.”

7. Dit het toe gebeur. God het die hemeldak gemaak en Hy het die water onder die dak geskei van die water bo die dak.

8. God het die ronde dak “hemel” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die tweede dag.

9. God het gesê: “Die water onder die hemel moet bymekaarkom op een plek, sodat daar ook grond kan wees.”Dit het toe gebeur.

10. God het die grond “aarde” genoem en Hy het die water “see” genoem. God het gesien dit is goed.

11. God het gesê: “Daar moet plante op die aarde groei – groen plante wat saad dra, en bome wat vrugte dra en wat saad in die vrugte dra.”Dit het toe gebeur.

12. Daar het plante op die aarde gegroei – groen plante wat hulle eie saad dra, en bome wat hulle eie saad in die vrugte dra. God het gesien dit is goed.

13. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die derde dag.

14. God het gesê: “Daar moet ligte in die hemeldak wees. Die ligte moet dag en nag van mekaar skei. Die ligte moet tekens wees wat wys watter tyd dit is en wanneer die dae en die jare begin en wanneer hulle eindig.

15. Die ligte in die hemeldak moet skyn op die aarde.”Dit het toe gebeur.

16. God het twee groot ligte gemaak, en ook die sterre. Die groot lig moes in die dag skyn, en die kleiner lig moes in die nag skyn.

17. God het hierdie ligte in die hemeldak gesit om lig te gee op die aarde

18. en om in die dag te skyn of in die nag te skyn. Hulle moes lig en donker van mekaar skei. God het gesien dit is goed.

19. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vierde dag.

20. God het gesê: “Daar moet baie diere in die water wees en daar moet voëls onder die hemeldak vlieg.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 1