Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 8:9-16 Bybel vir Almal (ABA)

9. In daardie tyd, in die derde maand, die maand Siwan, op die 23ste dag van die maand, het Mordegai die sekretarisse van die koning laat roep. Hulle moes skryf wat Mordegai sê, hulle moes skryf aan die Jode, aan die hoof-amptenare, die goewerneurs en die amptenare in die 127 provinsies van die land Indië, tot by die land Kus. Hulle moes skryf aan elke provinsie en aan elke volk. Hulle moes elke volk se eie skrif en sy eie taal gebruik. Hulle moes ook die Judeërs se eie skrif en taal gebruik.

10. Mordegai het geskryf dat die briewe van die koning kom en hy het die seël van die koning op die briewe gesit. Boodskappers het op vinnige perde van die koning gery om die briewe weg te neem na al die provinsies.

11. In die briewe was geskryf dat die koning vir die Judeërs in elke stad sê dat hulle bymekaar mag kom om te veg om hulle lewe te beskerm. Daar was ook geskryf dat hulle al die manne mag doodmaak wat vir hulle aanval, dit maak nie saak van watter volk of provinsie die manne kom nie. Hulle mag ook die manne se vroue en kinders doodmaak, en hulle mag daardie manne se goed vat.

12. Dit moes gebeur in al die provinsies van koning Ahasveros, op één dag, op die 13de dag van die twaalfde maand, die maand Adar.

13. Die boodskappers moes briewe na elke provinsie neem en al die mense moes weet dat dit ’n wet van die koning is. Die Judeërs moes op daardie dag gereed wees om hulle vyande te straf.

14. Die boodskappers het gery op vinnige perde van die koning. Die koning het gesê hulle moet gou maak. Die mense in die stad Susan het gehoor wat die koning gesê het

15. en hulle het gejuig en feesgevier. Toe Mordegai weggaan van die koning, het hy koningsklere en ’n groot goue kroon gedra, die koningsklere was van blou wol-materiaal en linne. Sy bo-kleed was van pers wol-materiaal en fyn linne.

16. Die Judeërs kon weer hoop. Hulle was bly en vrolik, hulle het geweet dat hulle belangrik is vir die koning.

Lees volledige hoofstuk Ester 8