Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 48:19-32 Bybel vir Almal (ABA)

19. Enige iemand wat in die stad werk, mag op hierdie grond plant en saai, dit maak nie saak van watter stam hy kom nie.

20. Die hele stuk grond wat julle vir die Here moet gee, is vierkantig, dit moet 25 000 el lank en 25 000 el breed wees. Julle moet dit vir die Here gee en aan Hom wy. Die grond vir die stad is ook by daardie grond.

21. “Die regeerder moet twee stukke grond kry, dit is die grond wat oorbly by die oostekant en die westekant van die gewyde grond en die stadsgrond. Sy grond moet langs die stamme se grond wees. Die gewyde grond is die plek waar die gewyde plek vir die tempel sal wees.

22. Die Leviete se grond en die stadsgrond moet tussen die twee stukke grond van die regeerder wees. Sy grond moet tussen die stuk grond van Juda en die stuk grond van Benjamin wees.

23-27. “Die grond wat die stamme van Benjamin, Simeon, Issaskar, Sebulon en Gad kry, is suid van die gewyde grond en die regeerder se grond. Die grond is van die oostekant tot by die westekant.

28. By die suidekant van die grond van die stam Gad moet die grens wees van die stad Tamar, verby die fonteine van die stad Meriba-Kades, en dan langs die rivier tot by die Middellandse See.

29. Dit is die land wat julle moet verdeel en vir die stamme moet gee, en dit is wat elke stam moet kry.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

30. “Daar moet plekke wees waar mense uit die stad kan gaan. Die noordekant van die stad moet 4 500 el lank wees,

31. en daar moet drie poorte wees, die poorte van Ruben, Juda en Levi. Die poorte van die stad moet die name hê van die stamme van Israel.

32. Die oostekant moet 4 500 el lank wees, en daar moet drie poorte wees, die poorte van Josef, Benjamin en Dan.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 48