Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 46:16-24 Bybel vir Almal (ABA)

16. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Wanneer die regeerder vir een van sy seuns ’n stuk van sy grond present gee, dan sal dit aan die seun behoort. Dit is sy grond omdat sy pa dit vir hom gegee het.

17. Maar wanneer die regeerder vir een van sy slawe ’n stuk van sy grond present gee, dan sal die grond die slaaf se grond wees net tot die jaar wanneer almal die grond moet teruggee vir die familie aan wie dit behoort het. Dan moet die slaaf die grond teruggee vir die regeerder. Net sy seuns mag die grond hou wat hy vir hulle gee.

18. Die regeerder mag nie van die volk se grond vat nie, hy mag nie hulle goed wegvat nie, hy mag net van sy eie grond vir sy seuns gee. Hy mag nie een van my volk se mense wegjaag van sy grond nie.”

19. Toe het die man vir my gebring deur die deur langs die poort, ’n mens kan daar ingaan na die gewyde kamers van die priesters by die noordekant. En daar, ver langs die westekant, sien ek toe ’n plek.

20. Die man het vir my gesê: Dit is die plek waar die priesters die vleis vir die skuld-offer en die sonde-offer moet afwas en waar hulle die brood vir die koring-offer moet bak. Hoekom? Want hulle mag nie die vleis en die brood in die buitenste oop stuk grond bring nie. Die vleis en die brood is gewyd, en dit sal vir die volk gevaarlik wees om by die vleis en die brood te kom.

21. Daarna het die man my gebring na die buitenste oop stuk grond, hy het my gebring by die vier hoeke van die oop stuk grond. Daar, in elke hoek, was ’n kleiner oop stuk grond.

22. Hierdie kleiner oop stukke grond in die hoeke was elkeen 40 el lank en 30 el breed, en daar het rook by hulle uitgekom.

23. Daar was ’n muur om elke stuk grond, en daar was kookplekke onder rondom teen die muur.

24. Die man het vir my gesê: “Dit is die plek waar die mense die offer-vleis van die volk moet gaarmaak, die mense wat by die tempel werk.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 46