Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 38:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek het gehoor die Here sê vir my:

2. “Mens, jy moet jou gesig draai na Gog van die land Magog. Hy is die hoof-regeerder van die volke Mesek en Tubal. Jy moet my boodskap vir hom bring.

3. Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Gog, hoof-regeerder van die volke Mesek en Tubal, Ek is nou jou vyand.

4. Ek sal jou laat omdraai en Ek sal ysterhoeke in jou kakebene steek. Ek sal jou uit jou land laat kom saam met al jou soldate, jou perde en jou manne wat op perde ry. Hulle dra almal mooi klere en elkeen hou ’n skild en ’n swaard in sy hand.

5. Daar is manne uit die lande Persië, Kus en Put saam met hulle, elkeen het ’n skild en ’n helm.

6. Daar is baie volke saam met jou, ook Gomer en Bet-Togarma, hulle kom van ver uit die noorde, met al hulle soldate.

7. Jy moet gereedmaak en wag, jy en al jou soldate wat by jou bymekaargekom het, jy moet saam met hulle wag.

8. Eendag, wanneer dit die regte tyd is, dan sal Ek vir jou sê wat jy moet doen. Jy sal kom na ’n land wat amper weer reg is ná die oorlog. Die berge van Israel was ’n baie lang tyd verwoes, maar daar is nou mense wat bymekaargekom het uit baie volke. Ek het gesê hulle moet uitkom tussen die ander volke, en hulle dink hulle is veilig.

9. Maar jy sal soos ’n stormwind kom en jy sal hulle aanval. Jy en al jou soldate en die manne van ander volke wat saam met jou is, sal baie wees, julle sal die land toemaak soos ’n wolk.”

10. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Daardie dag sal jy dink wat jy wil doen en jy sal planne maak om slegte dinge te doen.

11. Jy sal dink: Ek sal hierdie oop land aanval, ek sal kom by hierdie mense wat dink hulle is veilig, hulle dink niemand sal hulle aanval nie. Daar is nie mure om die stede waar hulle woon nie, daar is nie poorte wat hulle kan toesluit nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 38