Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 30:10-20 Bybel vir Almal (ABA)

10. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal vir koning Nebukadnesar van Babel gebruik om Egipte se soldate almal te laat sterf.

11. Ek sal vir Nebukadnesar en sy mense bring om die land te verwoes. Hulle is wrede mense, hulle sal hulle swaarde uithaal om teen Egipte te veg en hulle sal die land vol dooie mense maak.

12. Ek sal die riviere droog laat word en Ek sal die land vir slegte mense gee sodat hulle kan doen wat hulle wil. Ek sal vreemde mense bring, hulle sal die land en alles wat daarin is, verwoes. Ek, die Here, het gepraat.”

13. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal die afgode laat verdwyn, Ek sal al die gode wegvat uit die stad Memfis, daardie gode beteken niks. Daar sal nie meer ’n koning in Egipte wees nie. Ek sal almal in Egipte bang laat word.

14. Ek sal die land Patros verwoes, Ek sal die stad Soan laat brand, Ek sal die mense van die stad No straf.

15. Ek sal die mense van die stad Sin laat voel dat Ek kwaad is, Sin, die stad wat die sterk mure het. Ek sal al die soldate in die stad No laat sterf.

16. Ek sal Egipte laat brand, die mense in die stad Sin sal rondspring van pyn, die mure van die stad No sal val, vyande sal die stad Memfis in die dag aanval.

17. Die jongmanne in die stede Awen en Pi-Beset sal in die oorlog sterf, en die mense in daardie stede sal gevangenes word, hulle sal moet weggaan.

18. Dit sal in die stad Tagpanges in die dag donker word wanneer Ek die jukke breek wat Egipte op ander volke se nekke gesit het. Daar sal dan nie soldate wees wat Egipte sterk maak nie. ’n Wolk sal die stad toemaak, en sy mense sal gevangenes word, hulle sal moet weggaan.

19. Ek sal Egipte straf. Hulle sal weet dat Ek die Here is.”

20. Die Here het met my gepraat. Dit was in die elfde jaar, in die eerste maand, op die sewende dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my:

Lees volledige hoofstuk Esegiël 30