Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:13-22 Bybel vir Almal (ABA)

13. Ek het ook gehoor hoe skuur die diere se vlerke teen mekaar en hoe rol die wiele langs hulle. Dit was soos ’n groot aardbewing.

14. Die Gees het my opgetel en Hy het my saamgeneem. Ek het gegaan, maar ek was kwaad en ontsteld. Ek het gevoel die Here sit sy hand hard op my.

15. Ek het by die Judeërs in Tel-Abib gekom, hulle het langs die Kebar-kanaal gewoon. Ek het sewe dae lank daar tussen hulle gesit. Ek was so hartseer en ontsteld dat ek niks kon sê nie.

16. En toe, ná die sewe dae, het ek gehoor die Here sê vir my:

17. “Mens, Ek het jou gekies om ’n wag te wees vir die volk Israel. Wanneer Ek vir jou sê jy moet dit doen, dan moet jy vir hulle sê Ek waarsku hulle.

18. Ek sal vir die mens wat verkeerd doen, sê dat hy sal sterf, dit is seker. Wanneer Ek dit sê, dan moet jy hom waarsku. Jy moet praat en jy moet hom waarsku teen sy verkeerde lewe sodat hy kan aanhou lewe. As jy dit nie doen nie, dan sal daardie mens wat verkeerd doen, sterf omdat hy verkeerd gedoen het, maar Ek sal vir jóú straf omdat hy moes sterf.

19. En jy? Wanneer jy die mens wat verkeerd doen, gewaarsku het, maar hy verander nie sy lewe nie en hy hou nie op om verkeerd te doen nie, dan sal hy sterf omdat hy verkeerd gedoen het. Maar dan het jy jou eie lewe gered.

20. En wanneer iemand wat reg gelewe het, ophou om reg te doen en hy doen verkeerd, en Ek laat hom val en hy doen sonde, dan moet jy hom waarsku. As jy hom nie gewaarsku het nie, dan sal hy sterf omdat hy sonde gedoen het, en Ek sal nie dink aan die dinge wat hy reg gedoen het nie. Maar Ek sal jóú straf omdat hy moes sterf.

21. En jy? Wanneer jy die mens wat reg gelewe het, gewaarsku het om nie sonde te doen nie, en hy doen nie sonde nie, dan sal hy aanhou lewe, dit is seker. Hy sal aanhou lewe, want jy het hom gewaarsku en hy het geluister. En jy het dan jou eie lewe gered.”

22. Ek het toe daar gevoel die Here sit sy hand op my. Hy het vir my gesê: “Jy moet gereedmaak en na die vallei gaan. Ek sal daar met jou praat.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3