Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 14:15-23 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die Here het gesê: “Ek sal wilde diere in die land bring en hulle sal die land verwoes sodat niemand daar kan woon nie. Niemand sal deur die land kan loop nie omdat daar wilde diere is.

16. As daardie drie manne, Noag, Daniël en Job, nou in die land was, dan sou hulle nie hulle seuns of dogters kon red nie, hulle sou net hulleself kon red. Niemand sal in die land kan woon nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

17. Die Here het ook gesê: “As Ek nie wilde diere bring nie, dan sal Ek oorlog in daardie land bring en Ek sal sê daar moet oorlog in die hele land wees, Ek sal die mense en die diere in die land laat doodgaan.

18. En as daardie drie manne nou in die land was, dan sou hulle nie hulle seuns of hulle dogters kon red nie. Hulle sal net hulleself kan red. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

19. “En as Ek nie wilde diere of oorlog bring nie, dan sal Ek pes in daardie land stuur en Ek sal die land swaar straf, almal sal sterf. Ek sal die mense en die diere in die land laat doodgaan.

20. As Noag, Daniël en Job nou in die land was, dan sou hulle nie een seun of dogter kon red nie. Hulle sal net hulleself kan red omdat hulle reg gedoen het. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

21. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Dit alles sal gebeur wanneer Ek Jerusalem straf. Ek sal my vier swaar strawwe na Jerusalem stuur. Dit is: oorlog en honger en wilde diere en pes. Ek sal die mense en die diere in die stad laat doodgaan.

22. Maar luister, party mense in die stad sal aanhou lewe. Daar sal seuns en dogters uit die stad na julle toe kom, en julle sal sien hoe hulle gelewe het en wat hulle gedoen het. Dan sal julle weet hoekom Ek dit sleg laat gaan het met die stad, julle sal weet hoekom Ek alles laat gebeur het.

23. Wanneer julle sien hoe hulle gelewe het en wat hulle gedoen het, dan sal julle verstaan hoekom Ek alles gedoen het wat Ek in Jerusalem gedoen het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 14