Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 13:6-15 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die profete sê dinge wat Ek nie vir hulle gewys het nie, hulle sê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie, maar hulle lieg. Hulle sê ‘Die Here het dit gesê,’ maar die Here het hulle nie gestuur nie. En dan dink hulle die dinge sal gebeur wat hulle gesê het.

7. Hulle het dinge gesê wat Ek nie vir hulle gewys het nie, hulle het gesê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie, maar hulle het gelieg. Ek het niks gesê nie, maar hulle het gelieg en gesê ‘Die Here sê dit.’

8. Daarom sê die Here, Hy wat Here is: Ek is téén julle, want julle praat dinge wat nie waar is nie en julle sê julle sien dinge, maar dit is vals.”Dit is wat die Here gesê het.

9. Die Here het ook gesê: “Ek steek my hand uit en Ek straf die profete wat dinge sien wat Ek nie vir hulle gewys het nie en wat lieg en sê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie. Hulle sal nie ’n plek kry waar die mense bymekaar is wat aan My behoort nie, niemand sal hulle name skryf in die boek van Israel nie, en hulle sal nie kom in die land van Israel nie. Julle sal weet dat Ek die Here is.

10. Hulle het my volk verlei toe hulle gesê het daar sal vrede wees en daar toe nie vrede was nie. Die volk het klippe opmekaar gepak om ’n muur te bou, en die profete het die muur met kalk wit geverf. Daarom, net daarom,

11. moet jy praat met die profete wat die muur geverf het wat sal val. Jy moet vir hulle sê: Ek sal dit hard laat reën en dit sal hael, en Ek sal ’n stormwind laat waai.

12. Julle moet dit weet, wanneer die muur val, dan sal mense vir julle vra: ‘Waar is die kalk waarmee julle die muur geverf het?’ Hulle sal dit vra, dit is seker.”

13. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek is kwaad vir julle omdat julle dit gedoen het. Ek sal stormwinde laat waai en Ek sal dit hard laat reën en Ek sal hael stuur wat alles stukkend slaan.

14. En Ek sal die muur afbreek wat julle geverf het, die klippe sal op die grond lê en mense sal sy fondamente kan sien. Julle sal tussen die klippe sterf. Julle sal weet dat Ek die Here is.

15. Ek sal die muur afbreek en Ek sal die mense wat dit geverf het, aanhou straf totdat Ek nie meer kwaad is nie. Ek sal vir julle sê: Daar is nie meer ’n muur nie, en die mense wat dit geverf het, lewe nie meer nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 13