Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 5:4-17 Bybel vir Almal (ABA)

4. Maar die koning van Egipte het vir Moses en Aäron gesê: “Hoekom neem julle die mense weg van hulle werk? Hulle moet gaan werk.

5. Hier is baie Israeliete in die land. Julle moet hulle nie laat ophou werk nie!”

6. Die farao het daardie dag vir die mense wat die slawe oppas, en vir die voormanne gesê:

7. “Julle moenie vir die volk strooi gee om bakstene te maak soos voorheen nie. Hulle moet self strooi gaan optel,

8. en julle moet vir hulle sê hulle moet soveel stene maak soos voorheen. Hulle mag nie minder stene maak nie. Hulle is lui, dit is hoekom hulle aanhou sê hulle wil vir hulle God offers gaan bring.

9. Julle moet die werk swaar maak vir die manne, sodat hulle kan werk en nie tyd het om te luister na leuens nie.”

10. Die slawe-oppassers en die voormanne het toe vir die Israeliete gaan sê: “Die farao het gesê hy sal nie meer vir julle strooi gee nie.

11. Julle moet self strooi gaan soek, maar julle werk word nie minder nie.”

12. Die Israeliete het oral in Egipte strooi gaan soek.

13. Die slawe-oppassers het gesê hulle moet vinnig werk. Hulle het gesê: “Julle moet elke dag soveel stene maak soos toe ons vir julle die strooi gegee het.”

14. Die slawe-oppassers het die voormanne van die Israeliete geslaan en gesê: “Hoekom het julle nie vandag soveel stene gemaak soos voorheen nie?”

15. Die voormanne van die Israeliete het toe by die farao gaan kla en gesê: “Hoekom doen jy dit met jou werkers?

16. Jy gee nie vir ons strooi nie, maar die slawe-oppassers sê vir ons: ‘Maak stene!’ Hulle slaan ons, maar dit is jóú mense wat verkeerd is.”

17. Maar die farao het gesê: “Julle is lui. Julle wil nie werk nie. Dit is hoekom julle aanhou sê julle wil vir die Here offers gaan bring.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 5