Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 5:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses en Aäron het na die farao toe gegaan en hulle het vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Jy moet my volk laat gaan sodat hulle vir My ’n fees kan vier in die woestyn.’ ”

2. Maar die farao het gesê: “Wie is die Here en hoekom moet ek na Hom luister? Hoekom moet ek die Israeliete laat gaan? Ek ken nie die Here nie en ek sal ook nie die Israeliete laat gaan nie.”

3. Moses en Aäron sê toe: “Die God van die Hebreërs het aan ons verskyn. Laat ons asseblief in die woestyn ingaan, so ver soos ’n mens in drie dae kan loop. Ons moet vir ons God die Here offers gaan bring, anders sal Hy ons straf, Hy sal siektes en oorlog stuur.”

4. Maar die koning van Egipte het vir Moses en Aäron gesê: “Hoekom neem julle die mense weg van hulle werk? Hulle moet gaan werk.

5. Hier is baie Israeliete in die land. Julle moet hulle nie laat ophou werk nie!”

6. Die farao het daardie dag vir die mense wat die slawe oppas, en vir die voormanne gesê:

7. “Julle moenie vir die volk strooi gee om bakstene te maak soos voorheen nie. Hulle moet self strooi gaan optel,

8. en julle moet vir hulle sê hulle moet soveel stene maak soos voorheen. Hulle mag nie minder stene maak nie. Hulle is lui, dit is hoekom hulle aanhou sê hulle wil vir hulle God offers gaan bring.

9. Julle moet die werk swaar maak vir die manne, sodat hulle kan werk en nie tyd het om te luister na leuens nie.”

10. Die slawe-oppassers en die voormanne het toe vir die Israeliete gaan sê: “Die farao het gesê hy sal nie meer vir julle strooi gee nie.

11. Julle moet self strooi gaan soek, maar julle werk word nie minder nie.”

12. Die Israeliete het oral in Egipte strooi gaan soek.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 5