Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 37:11-12-27 Bybel vir Almal (ABA)

11-12. Hy het die tafel oorgetrek met skoon goud en hy het ’n rand van goud rondom die tafel vasgesit. Die rand was ’n handbreedte. Aan hierdie rand was nog ’n rand en dit was ook van goud.

13. Hy het vier goue ringe gemaak en hy het die ringe vasgesit aan die vier hoeke van die tafel, een ring by elke tafel-poot.

14. Die ringe was naby die rand, sodat hulle die dra-pale daardeur kon steek om die tafel te dra.

15. Besaleël het die dra-pale van doringhout gemaak en hy het dit oorgetrek met goud. Hulle het die tafel met die dra-pale gedra.

16. Hy het ook die goed gemaak wat hulle by die tafel gebruik het: die skottels, panne, kanne en bakke. Hulle het die drank-offers daarmee uitgegooi. Besaleël het alles van skoon goud gemaak.

17. Besaleël het ’n lampstaander van skoon goud gemaak. Die lampstaander se voetstuk, die stam, die blomme en blomknoppe was alles een stuk goud.

18. Daar was ses arms aan die kante van die lampstaander, drie arms aan die een kant en drie arms aan die ander kant.

19. Daar was drie blomme aan elke arm. Die blomme het gelyk soos die blomknoppe en blomme van amandelbome.

20. Daar was vier blomme aan die stam. Hulle het ook gelyk soos die blomknoppe en blomme van amandelbome.

21. Op elke plek waar twee arms van die lampstaander bymekaarkom, was daar ’n blomknop.

22. Die blomknoppe en die arms was alles een stuk goud, skoon goud wat Besaleël met ’n hamer geslaan en gevorm het.

23. Besaleël het sewe lampe gemaak, en ook die dekseltjies wat die lampe doodmaak. Hy het alles van skoon goud gemaak.

24. Hy het ’n talent skoon goud gebruik om die lampstaander te maak en alles wat by die lampstaander moes wees.

25. Besaleël het ’n wierook-altaar van doringhout gemaak. Dit was vierkantig, een el lank en een el breed, en dit was twee el hoog. Die altaar en sy horings was een stuk hout.

26. Hy het die wierook-altaar oorgetrek met skoon goud, die bokant van die altaar, die kante rondom die altaar, en die horings. Hy het ’n goue rand rondom die altaar vasgesit.

27. Hy het twee goue ringe gemaak en hy het dit vasgesit onder die rand aan die twee kante van die altaar. Hy het die dra-pale deur die ringe gesteek om die wierook-altaar te dra.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 37