Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:24-35 Bybel vir Almal (ABA)

24. Ek het toe vir hulle gesê almal wat goue ringe het, moet dit afhaal en vir my gee. Ek het die goue ringe in die vuur gegooi en hierdie bul-kalf het daaruit gekom.”

25. Moses het gesien die volk het wild geword en verkeerd gedoen. Hy het ook gesien dit was Aäron se skuld. Hy het geweet hulle vyande sal hulle spot.

26. Toe het Moses by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Almal wat vir die Here iets wil doen, kom hier na my toe!”Al die Leviete het toe by Moses kom staan.

27. Hy het vir hulle gesê die Here, die God van die Israeliete, sê: “Elkeen moet sy swaard neem en deur die hele kamp gaan. Maak dood die mense, ook jou broer, jou vriend of jou buurman.”

28. Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het daardie dag omtrent 3 000 mans doodgemaak.

29. Moses het vir die Leviete gesê: “Julle het julleself vandag aan die Here gewy om vir Hom te werk. Julle het julle eie seuns en broers doodgemaak. Daarom seën die Here julle vandag en maak Hy julle sy priesters.”

30. Die volgende oggend het Moses vir die volk gesê: “Julle het sonde gedoen, ’n baie groot sonde. Maar ek sal nou na die Here toe gaan en met Hom gaan praat. Miskien sal Hy julle sonde vergewe.”

31. Moses het toe teruggegaan na die Here toe en gesê: “Ag, Here, die volk het sonde gedoen, ’n baie groot sonde. Hulle het vir hulle ’n god van goud gemaak.

32. Maar nou, vergewe asseblief hulle sonde. As U dit nie wil doen nie, dan moet U my naam uitvee uit die boek wat U geskryf het.”

33. Die Here het vir Moses gesê: “Nee, die mense wat teen My gesondig het, dit is húlle name wat Ek sal uitvee uit my boek.

34. Gaan nou, neem die Israeliete na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal vir jou wys waarnatoe julle moet gaan. Maar wanneer Ek so besluit, dan sal Ek hulle straf oor hulle sonde.”

35. Die Here het die volk swaar gestraf omdat hulle die bul-kalf aanbid het wat Aäron gemaak het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32