Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28:36-43 Bybel vir Almal (ABA)

36. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n blom van skoon goud maak en julle moet daarop skryf soos ’n mens op ’n ring skryf: ‘Gewy aan die Here.’

37. Julle moet die blom met ’n blou woldraad vasmaak voor aan die tulband.

38. Die blom moet op Aäron se voorkop wees. Die blom sal wys dit is Aäron wat moet seker maak dat die priesters die Israeliete se gewyde presente reg gebruik. Die blom moet altyd op Aäron se voorkop wees, dan sal die Here die presente aanvaar.”

39. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet vir Aäron ’n rok en ’n tulband van linne-materiaal maak en julle moet ’n skouer-serp maak en daarop borduur.

40. Julle moet vir Aäron se seuns ook rokke en skouer-serpe en kopdoeke maak. Hierdie klere moet mooi wees en dit moet wys hulle is priesters.

41. Jou broer Aäron en sy seuns moet hierdie klere aantrek, en jy moet hulle salf en wy sodat hulle priesters kan wees vir My.”

42. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet vir Aäron en sy seuns broeke van linne-materiaal maak sodat die mense nie hulle kaal liggame onder hulle klere kan sien nie. Die broeke moet hulle toemaak van hulle heupe tot by hulle bo-bene.

43. Aäron en sy seuns moet die broeke aantrek wanneer hulle ingaan in die tent waar Ek aan julle verskyn, of wanneer hulle nader gaan na die altaar om in die tempel te werk. As hulle nie die broeke aantrek nie, dan is dit sonde, en dan sal hulle sterf. Aäron en sy nageslag moet altyd gehoorsaam wees aan hierdie wet.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 28