Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 24:10-18 Bybel vir Almal (ABA)

10. Hulle het die God van die Israeliete gesien. Onder sy voete was ’n vloer van saffier. Dit was so blou soos die lug.

11. Die Here het nie die leiers van die Israeliete laat sterf nie. Hulle het God gesien en toe het hulle geëet en gedrink.

12. Die Here het vir Moses gesê: “Kom teen die berg op na My toe en wag hier. Ek sal vir jou die plat klippe gee waarop Ek die wette geskryf het. Jy moet dit vir die mense leer.”

13. Moses en Josua, sy helper, het toe gereedgemaak en Moses het opgegaan teen die berg van God.

14. Hy het vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons totdat ons terugkom na julle toe. Aäron en Hur is by julle. As iemand ’n probleem het, dan moet hy na Aäron en Hur toe gaan.”

15. Moses het teen die berg opgegaan, en ’n wolk het oor die hele berg gekom.

16. Die lig wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy verskyn, was op Sinai-berg, en die wolk was ses dae lank oor die berg. Op die sewende dag het die Here uit die wolk vir Moses geroep.

17. Dit het vir die Israeliete gelyk soos ’n groot vuur bo-op die berg.

18. Moses het ingegaan in die wolk en hy het opgegaan teen die berg. Moses was 40 dae en 40 nagte op die berg.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 24